Drie jeugdiges wat na bewering fietse in Somerset-Wes gesteel en daarna drie vroue probeer beroof het, is danksy die vinnige optrede van Strand Patrol-buurtwaglede en verkeersbeamptes aangekeer.
Volgens KC Gericke, voorsitter van Strand Patrol-buurtwag, het twee van hul lede saam met twee verkeersbeamptes, wat die omgewing gepatrolleer het, kragte saamgespan nadat hulle op Vrydag 27 September die vermeende misdadigers op fietse gewaar het net toe hulle op die vroulike slagoffers by die kruising van die R44 en De Beers-weg toegeslaan het. Hulle het die drie kwaaddoeners agternagesit en tot op die hoek van Da Gamastraat en Broadway-boulevard gevolg, waar hulle omstreeks 17:30 vasgetrek is.
Die drie jeugdiges is na die Strand-polisiekantoor geneem, waar hulle op klagte van poging tot roof in hegtenis geneem is. Dit het later aan die lig gekom dat die verdagtes na bewering die fietse in Somerset-Wes gesteel het.
Volgens sers. Suzan Jantjies, ’n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, het die vermeende misdadigers na bewering verskeie slagoffers by die Southey’s Vines-fietspark in Dummerstraat geteiken.
Die verdagtes het glo die slagoffers met okapi-messe gedreig en hulle gedwing om die fietse te oorhandig.
Die beskuldigdes het glo die gesteelde fietse gevat en in die rigting van Strand getrap. Dis toe die mes-swaaiende verdagtes op die vroulike slagoffers toegesak, die beweerde roofpoging vir hul besittings probeer uitvoer het en die voorval deur owerhede en hul vennote in misdaadbekamping gefnuik is.
Volgens Jantjies is ’n aanklag van roof met ’n wapen anders as ’n vuurwapen en besit van gesteelde eiendom bygevoeg. Die verdagtes het Maandag (7 Oktober) op die verskeie aanklagte in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
“Hierdie voorval getuig van die feit dat beamptes nie net die paaie patrolleer om die veiligheid van padgebruikers te verseker nie, maar ook sal help met die inhegtenisneming van verdagtes wat die wet oortree en ’n bedreiging vir gemeenskappe inhou,” het die woordvoerder vir die Stad Kaapstad se verkeersdiens, Kevin Jacobs, gesê.
Volgens Gericke bewys die voorval dat gemeenskapslede hulself beter moet beskerm.
“Ongelukkig vind misdaad oral om ons plaas; dit beteken dus ons moet waaksaam wees,” het hy die publiek aangespoor.



