Die skrywer en radio-omroeper Natasha Fick stel vandeesmaand haar derde gepubliseerde boek, Gebede om jou dag mee te begin, bekend.
Kaartjies is beskikbaar vir die bekendstelling van dié gebedsjoernaal en -dagboek wat Saterdag 25 Junie om 14:00 by die Bellville-biblioteek se kunsgalery plaasvind.
Die Disa FM-omroeper vertel dat die Here gedurende haar stiltetyd een oggend, terwyl sy in September 2020 met vakansie was, haar die idee vir haar nuutste boek op die hart gelê het. Sy was oorweldig met gebede; soveel so dat sy vergeet het van die welverdiende blaaskans en vir dae aaneen haar gedagtes neergepen het. “Ek het gegaan om vakansie te hou, maar die Here het ander planne in gedagte gehad,” meen Fick. “Jesus se dissipels het vir Hom gevra ‘Leer ons om te bid’. En ek het hieruit inspirasie geput om die boek te skryf en te voltooi, selfs terwyl Covid-19 gewoed het. Talle ander wat daagliks vir gebed gevra het, het my verder gemotiveer om ’n soort handleiding te voorsien as voorbeeld van hoe en waaroor om te bid.”
Fick verklap verder dat die skryfproses haar selfs ’n ding of twee geleer het oor gebed, veral hoe om by die Here se voete te bly wanneer jy deur ’n stryd gaan.
DistriksPos
& Helderberg Gazette het verlede jaar met die 45-jarige inwoner van Parow, wat luisteraars bedags op die Christelike gemeenskapsradiostasie in Grabouw inspireer, gesels toe sy haar outobiografie by die Somerset-Wes-stadsaal bekend gestel het (Jy is nie ’n ‘failure’ nie!DistriksPos, 22 April 2021). Die boek, My Life, My Story – Against All Odds, wat haar lewensverhaal as ’n storie van hoop met ander gedeel het, is voorafgegaan deur haar debuutboek, Dagstukkies vir die besige vrou, wat in 2019 gepubliseer is.
Fick meen lesers wat belangstel in haar jongste boek, wat deur Tshienda Publications uitgegee word, kan uitsien na ’n gebed vir ’n ieder en ’n elk. “Jy moet dit net jou eie maak. So verryk en versterk jy jou gebedslewe en begin jy elke dag op die regte wyse,” verduidelik dié 44-jarige.
Fick het soos baie ander op ’n jong ouderdom die pad byster geraak. Sy was ’n skoolverlater wat twee tienerswangerskappe beleef en haar tot drank gewend het. Maar, sy het nie toegelaat dat haar omstandighede haar toekoms bepaal nie. Sy het haar matriek op 35 jaar voltooi, ’n kwalifikasie in Bybelstudie bekom, en ’n Baccalaureusgraad in teologie verwerf. Vandag dien sy trots as omroeper, pastoor, eienaar van haar eie onderneming, televisieaanbieder en skrywer.
Kopieë van Gebede om jou dag mee te begin, asook kaartjies vir die bekendstelling, is by Fick via e-pos by cakeandbake91@gmail.com of deur Facebook beskikbaar.



