Stof jou pers-en-wit-uitrusting af, kry jou vriende byeen, en koop kaartjies vir vanjaar se Pinotage & Biltongfees by Allée Bleue-wynlandgoed, tussen Stellenbosch en Franschhoek.

Die feestelikheid vind Saterdag 29 en Sondag 30 Julie van 11:00 tot 16:00 plaas.

Die agttien kelders sal om en by dertig verskillende wyne aanbied, vir proe en verkoop. Die wyne omvat ’n verskeidenheid style, van die tradisionele rooi pinotage tot rosé, vonkelwyn, port-styl en selfs ’n wit pinotage. Elke landgoed sal een wyn aanbied, wat met ’n spesifieke biltong, verskaf deur OMG Biltong, gepaar sal word.

Feesgangers sal die geleentheid hê om verskillende pinotagewyne van Stellenbosch, Franschhoek, Rawsonville, Paarl, Worcester en Wellington te proe, almal onder een dak genaamd die “Grand Hall”.

Die deelnemende kelders is Allée Bleue, Beyerskloof Wyne, Boland Kelder, Diemersfontein Wyne, Doolhof Wynlandgoed, Du Toitskloof Wyne, Groenland Wyne, Hill & Dale, Hoopenburg Wyne, Kanu Wyne, Koelenhof Wynkelder, Leopard’s Leap Wyne, Mellasat Wingerde, Neethlingshof Landgoed, Organiese Wyne deur Sophie Germanier, Overhex Wyne en Perdeberg Kelder. Die nege verskillende biltongsoorte is: “Geelvet”, Caravan Smokey, Free Range Dry Wors, Lean Kalahari, Springbok, Lemon Pepper, Venison Dry Wors, Kudu en Hunters Chilli.

Kosverkopers, gereël deur Allée Bleue-wynlandgoed, sal een van Franschhoek se gunsteling kosplekke, Let’s Frite, insluit, wat hul fynproewers-hamburgers sal voorsit. Ander beskikbare kos sal ’n verskeidenheid pizza’s, en kaas- en vleisborde insluit. Die Allée Bleue kosaanbiedings sal slegs per kaart te koop wees.

Guy Feldman en sy orkes – genaamd Mista Guy and The Biltong Band – sal seker maak dié naweek by Allée Bleue in die Franschhoek-wynlande sal onthou word.

Trek jou helderste en vermaaklikste pers-en-wit-uitrusting aan en geniet ’n kans om ’n fantastiese prys as besgeklede besoeker te wen.

Kaartjies is beskikbaar op die kaartjie-platvorm Quicket. Gewone kaartjies beloop R350 per persoon en VIP-kaartjies R550 per persoon.

Daar is ook kaartjies beskikbaar vir bestuurders wat nie wyn drink nie, teen R250.

Diegene sal steeds al die biltongsoorte by die fees kan proe, maar die glas en wyn sal uitgesluit word.

Gewone kaartjies sluit in: ingang na die feesterrein, sitplek, ’n pragtige pinotage & biltong-kristalglas, 18 uitgesoekte pinotage & biltong- samestellings en nagenoeg 20 addisionele wyne om te proe en te koop.

Die VIP-kaartjie sluit die bogenoemde in, sowel as: privaat-geallokeerde sitplekke in ’n gebied net vir dié groep, ’n verwelkomingsdrankie, ligte kaasbord met aankoms, dienspersoneel, laatmiddag-koffie en ’n soetigheid om die dag mee af te sluit.. Vir meer inligting, kontak Bjorn van Oort by 084 511 1806 gedurende kantoor-ure, of stuur e-pos na bjorn@cvomarketing.co.za, of besoek https://www.facebook.com/PinoBiltongFest.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article