’n Onderwyser van Strand Sekondêre Skool het ná 36 jaar afgetree.
Elizabeth Farmer wat in 1986 by Strandse hoërskool aangesluit het, het verlede Vrydag (25 Maart) haar laaste dag by die skool deurgebring.
“Ek het destyds begin as ’n naaldwerkonderwyseres, maar dis later afgeskaf. Ek gee toe tegnologie, verbruikerstudies en skeppende kuns,” sê Farmer.
Tot en met haar aftrede het sy vir gr.10 tot 12’s verbruikerstudies gegee en vir gr.8 en 9’s skeppende kuns.
“My liefde vir onderwys kom van my ouers af. Hulle albei was self ook onderwysers.
“Al vier ons kinders is ook onderwysers. My ouers het my geleer dat wanneer ek in ’n klas instap, moet ek onthou elke kind is deel van my salaris en dat ek nooit ’n kind se tyd moet mors nie.”
Sy beskou haarself as ’n streng onderwyser wat met deernis klasgegee het.
“Ek het baie lief en leed by Strand Sekondêr deurgemaak.
“My swakpunt was dat ek te veel gegee het, maar as ek nou terugkyk was dit nie eintlik juis ’n swakpunt nie.”
Sy onthou eenkeer het ’n leerder haar bedank dat sy die goeie in hom raakgesien het en hom so uit die tronk gehou het.
“Volgens my middelbroer (Heston) is onderwys my roeping, want ek is altyd daar vir leerders en ek glo in die wat ander nie in glo nie.”
By die skool het sy baie suksesverhale gehad, maar sy glo die een hand moenie weet wat die ander hand doen nie.
“Die hoogtepunt elke jaar vir my was wanneer leerders in wie niemand glo nie ’n sukses maak van wat hulle doen,” sê Farmer.
Haar eie twee kinders is ook onderrig deur haar en haar kollegas toe hulle self ook leerders by die skool was.
“Ek het vertroue in myself en my kollegas geplaas om my eie kinders te onderrig om eendag suksesvol te wees.”
Strand Sekondêr was volgens Farmer haar hele lewe.
“Ek is al deur agt hoofde by die skool.”
Tans is sy ook lid van die skool se alumni.
“Noudat ek afgetree het, wil ek graag voltyds tuin maak en ek wil ook brei en kos maak.
“Ek gaan beslis nie verveeld wees noudat ek afgetree het nie,” sê sy.
Sy wil haar kollegas bedank vir al hul harde werk en die feit dat sy al die jare saam met hulle kon werk.
“Ek is vandag wat ek is deur my oorlede ouers se harde werk, maar ook deur die genade van my hemelse Skepper.”
Sy beskou onderwys as ’n edel beroep en beveel dit by leerders aan om onnies te word.
“As ek oor moet begin, sal ek weer by Strand Sekondêr wil begin en by geen ander skool nie,” sluit sy af.



