F.A. Venter se kleindogter, Stella Barclay, en sr. Jackie Visser-Vermeulen van Altena het die lint by die seremonie geknip.Foto’s: Jamey Gordon


’n Strand-tehuis pronk met ’n nuwe toevoeging ter herdenking van ’n Afrikaanse literêre reus en geliefde skrywer wat 25 jaar ná sy verlies steeds as ’n “juweel” in skryfkuns vereer word.

Strand Naastediens se Altena-aftreeoord het Vrydagmiddag (29 Julie) op ’n spesiale huldigingsgeleentheid ’n tuinbankie ter nagedagtenis aan F.A. Venter bekend gestel. Die geleentheid val saam met die afsluiting van ’n huldigingsmaand waartydens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) die werke van die bekroonde skrywer onthou en gevier het. Die sitbankie met ’n gendenkplaat waarop Venter se naam asook die titels van sy vyf biografiese boeke pronk, is deur die kultuurorganisasie aan die tehuis, waar die gerespekteerde skrywer op 8 Julie 1997 oorlede is, geskenk.

Die bankie is in die tuintjie naby die ingang van die tehuis in Altena-weg aangebring en by die geleentheid deur Venter se kleindogter, Stella Barclay, en Altena se sr. Jackie Visser-Vermeulen onthul.

“F.A. Venter se bydrae tot Afrikaanse letterkunde is van onmeetbare waarde en hy is ’n legendariese skrywer in die Afrikaanse kultuurtuin,” het Elizma Smith, FAK se provinsiale kultuur-organiseerder, gesê na aanleiding van wat die huldigingsgeleentheid geïnspireer het.

“Venter het as skrywer beide oud en jonk geïnspireer en verhale van die geskiedenis só vertel dat enigiemand daarby kan aanklank vind. Hy het kinders deur sy boeke, waarvan party vir geslagte Afrikaanse voorgeskrewe boeke in skole was, vir lees en geskiedenis lief gemaak. Sy bydrae tot Afrikaans en die literêre kuns is van onskatbare waarde. Die huldeblyk is klein in verhouding tot dié reus van ’n Afrikaanse skrywer.”

Volgens Smith het verskeie skrywers, soos Dana Snyman en Irma Joubert, Venter beskryf as ’n legendariese mens wat tot hul persoonlike groei as skrywers bygedra het, en sy nalatenskap is vandag nog relevant, “daarom onthou ons nie net die man nie, maar ook die invloed wat hy selfs ná sy dood 25 jaar gelede steeds op die Afrikaanse gemeenskap het”.

Die program, wat beloof het om op ’n waardige wyse erkenning aan dié literêre reus te bring, het nie net die onthulling van die geskenkte bankie behels nie, maar ook voorlesings uit sy boeke deur huidige inwoners by Altena en herinneringe deur twee afgetrede matrones, wat destyds in hul poste by die tehuis was toe Venter en sy vrou daar gewoon het.

Die eertydse matrone, Stoffie Lombard, het vertel hoe sy aan die begin van Januarie 1991 F.A. Venter en sy vrou, Stella, as inwoners van Altena-aftreeoord ontvang het. “Ek was nogal senuweeagtig,” het Lombard meegedeel. “Ek het hulle ingenooi in my kantoor en met ’n breë glimlag my bes probeer om hulle tuis te laat voel. Voor my het die man gesit wat my sonder ’n glimlag goed deurgekyk het. Die eerste gedagte wat by my opgekom het, was: wie gaan ek saam met julle aan die eettafel sit waar julle tuis sal voel? Ek het besluit ek gaan hulle by Oom Daan en tannie Ella Marais sit. By daardie tafel gaan hulle gewis tuis voel, en lekker kan gesels en saam lag. Dit was toe die regte besluit. Hulle het groot vriende geword.”

Lombard het verder herroep dat Venter in daardie stadium besig was met sy boek, Die keer toe ek my naam vergeet het – die outobiografiese vertelling oor sy ervarings ná ’n beroerte, sy verblyf in ’n hospitaal en toe veral in die plaaslike aftreeoord.

“En so leer ek hom toe as mens ken. Hy het dikwels deur die dag by die trappe af na my kantoor gekom. Hy het dan met ’n glimlag ingeloer en my mooi gevra: ‘Het jy vir my ’n mooi storie vir my boek vandag?’ Só vertel hy al die stories in sy boek,” het Lombard gesê voordat sy gaste aangespoor het om die boek te lees.

“Hy was ’n goeie man. Hy was gelowig, nederig, liefdevol en het ’n lewenskruis met waardigheid gedra.”

Die tehuis se skakelbeampte, Estellé Lecoq, het gesê dis ’n groot voorreg vir DSND en Altena-aftreeoord om deel van die huldeblyk van F.A. Venter te wees. “Ons bied ’n tuiste, vriendekring en gesonde gemeenskap vir inwoners . . . Ons maak geskiedenis,” het sy gesê.

Van die spesiale gaste was, van links, agter: Jack Gründling, Stella Barclay, Marelein Burger, Francois Burger, Soekie Goosen, Lizette Joubert en Willem Botha. Voor: Elizabeth Gründling en Ceciel Botha.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article