Die 2026-Endler-konsertreeks open hierdie week met ‘n reeks konserte wat internasionale sterre sowel as van Suid-Afrika se mees talentvolle musikante na die verhoog bring.
Die reeks, aangebied in die Endler- en Fismer-sale by die Universiteit Stellenbosch se Konservatorium, bied ‘n ryk verskeidenheid musiekuitvoerings.
Aanstaande maand (Maart) word die Stellenbosch- internasionale klavier-
simposium ook hier aangebied.

Die reeks begin Vrydag (20 Februarie) met ‘n tjello-en-klavieruitvoering deur die talentvole Cheng² Duo. Die sibbe Bryan (tjello) en Silvie Cheng (klavier) is internasionaal bekend vir hul energieke spel en besondere musikale sinergie.
Hul program neem die gehoor op ‘n reis van Spaanse kleur en Engelse volks-
wysies tot Duitse romantiek en Franse elegansie, met werke deur Joaquín Nin, Vaughan Williams, Schumann, Nadia Boulanger en Poulenc.
Die Chengs het oor die jare heen ‘n internasionale profiel opgebou met optredes in Noord-Amerika, Europa, Asië en Suid-Afrika. Bryan is ook die enigste pryswenner van beide die Koningin

Elizabeth- en Geneefse internasionale musiekkompetisies die afgelope 40 jaar.
Jazz is Dinsdag 24 Februarie in die kollig wanneer die Kaapse pianis Ramon Alexander saam met sy trio terugkeer vir ‘n samewerking met die Duitse baskitaar-
speler Martin Zenker. Die program is progressief, maar bly geanker in sielvolle Suid-Afrikaanse jazz.
Op Vrydag 27 Februarie is die Wits-trio – Malcolm Nay (klavier), Zanta Hofmeyr (viool) en Susan Mouton (tjello) – in War and Peace, wat twee ikoniese werke uitvoer, op die verhoog. Beethoven se “Archduke” word dikwels verbind aan ideale van vryheid en hoop. Shostakovich se Klaviertrio Nr. 2 is ‘n skroeiende reaksie op die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog.
Van Saterdag 28 Februarie tot Woensdag 4 Maart word Stellenbosch ‘n nasionale spilpunt vir fluitspel en -onderrig wanneer die eerste Suid-Afrikaanse fluitfees (SAFF) aangebied word.
Twee feeshoogtepunte sluit in die fluit-
koorkonsert, One Voice, Many Colours (Dinsdag 3 Maart), asook die fees se galakonsert, Beyond Breath, op 4 Maart.
Op Vrydag 6 Maart bied die bariton William Berger saam met die Juliet String Quartet The Broad and Burning Moon aan.
Die “nagmusiek”-konsert beweeg van Respighi se “Il Tramonto” na Barber se “Dover Beach”, en sluit nuwe verwerkings van liedere deur Clara Schumann in, saam met William Alwyn se 3 Winter Poems for String Quartet en Borodin se geliefde strykkwartet No. 2.
Op Vrydag 13 Maart val die kollig op Lutesong Consort se Cupid’s Arrow – Love Songs from the 17th Century en op Vrydag 20 Maart tree USSO onder leiding van die internasionale dirigent Arjan Tien op met mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce as solis.
Kaartjies vir al die konserte is aanlyn deur Webtickets te koop.




