’n Negentienjarige man is die afgelope naweek ná ’n onderonsie by ’n partytjie in die Rusthof-woonbuurt doodgesteek.
Die voorval het Saterdagaand (18 Junie) in Sewendestraat plaasgevind en die lewe van Brancoulin Fritz geëis.
Die slagoffer was bekend as ’n ywerige rugbyspeler wat sy passie as flank vir die onder-20-span van die St. George’s-rugbyklub uitgeleef het. Fritz is in die voorval, wat omstreeks 19:30 gebeur het, glo in die bors gewond en het met sy aankoms by die hospitaal beswyk.
Fritz se ma, Johanna, wat Maandag (20 Junie) haar geliefde seun se lyk moes gaan uitken, het gesê sy steier steeds onder die skok oor sy dood.
“Ek het die aand voor die partytjie vir hom gevra om vroeg huis toe te kom. Maar als het in ’n oogwink gebeur,” vertel die bedroefde ouer.
Sy sê haar seun, wat ’n oud-leerder van Strand Sekondêre Skool was, het ’n groot vriendekring gehad en almal vertel nou verskillende stories van wat op die noodlottige aand gebeur het.
“Ek weet nie watter storie om te glo nie. Ek probeer ook self ontsyfer wat werklik daardie aand gebeur het. Al wat ek weet, is my kind het ’n baie blink toekoms voor hom gehad.”
Volgens die Strand-polisie is Fritz ná die messteekvoorval deur ’n vriend na die Helderberg-hospitaal vervoer, waar hy met sy aankoms dood verklaar is.
Vier verdagtes – wie se name aan die koerant bekend is – is ná die voorval by hul huise aangekeer en op aanklag van moord in hegtenis geneem.
Teen druktyd het nog net een verdagte, ’n 17-jarige van Strand voor die Strand-landdroshof verskyn.
St. George’s-rugbyklub sê in ’n Facebook-inskrywing dat die bestuur, afrigtingspan en spelers van die rugbyklub – veral die onder-20-spanmaats – hartseer is oor die skielike heengaan van hul spanmaat.
“Ons as die Lulu-gesin rou oor die skielike dood van ’n jong en energieke speler met soveel gees. Ons hou sy ouers, familie en vriende in ons gebede gedurende hierdie hartseer tyd. Rus in vrede, Lulu-boy. Jy sal deur baie gemis word,” lees die inskrywing.
Die familie tref nog begrafnisreëlings en sal wanneer dit beskikbaar is, die besonderhede deel.
“Ek sal altyd my kind onthou vir sy lewenslus en sy groot passie vir rugby en vir musiek,” het Johanna ten slote gesê.



