Gert Minnie is nou die hooffokus in ’n bedrogsaak by die Somerset-Wes-polisie. Foto:

Credit: SYSTEM

Botrivier-inwoner Gert Minnie wat aanvanklik as vermis aangemeld en toe gevind is, is nou in die kollig nadat ’n bedrogsaak teen hom geopen is en hy moontlik binnekort deur die polisie in hegtenis geneem kan word.

Minnie, ’n finansiële adviseur wat in Botrivier werk, het die nuuswêreld die afgelope paar weke aan die gons gehad nadat hy op Donderdag 25 Januarie verdwyn het en sy voertuig, ’n Hyundai ix35, verlate in ’n parkeerterrein in Clarencerylaan naby die Pitstop-restaurant gevind is (“Soektog na Minnie duur voort,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 31 Januarie).

Enkele dae hierna het Minnie glo sy familie geskakel om hom in Worcester te kom oplaai.

Lt.kol. Pieter de Kock, ’n ondersoekbeampte van die Grabouw-polisie, het in lig van die verwikkelinge aan die plaaslike koerant bevestig hulle weet nie waar Minnie tydens sy verdwyning was nie.

Volgens sersant Suzan Jantjies, ’n woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, is ’n bedrogsaak teen Minnie geopen nadat ’n kliënt van ’n finansiële firma in Somerset-Wes Dinsdag 23 Januarie ingelig is van onreëlmatighede in haar rekening.

“ ’n Interne ondersoek is gedoen en ’n bedrogsaak is by die Somerset-Wes-polisie aangemeld. Die ondersoek is nog in ’n vroeë stadium,” het sy bygevoeg.

Sy het ook genoem die polisie is seker ’n inhegtenisneming sal uitgevoer word sodra al die uitstaande ondersoeke afgehandel is.

Minnie se broer, Johan is baie dankbaar vir almal se ondersteuning en hulp om na sy broer te soek. “Ons sal hom verder vorentoe ondersteun,” het hy gesê.

Jantjies het bevestig die ondersoek duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article