In Saterdag (25 Junie) se Superliga B-wedstryd tussen die wenlose tuisspan, Goodwood, en die onoorwonne Helderberg kon gewis nie ’n verrassing verwag word nie.

Die werklikheid was ’n 0-96-eindtelling, wat 14 drieë opgelewer het in die besoekers se guns. Met rustyd is ses drieë (0-40) al gedruk.

Vir die rekord – die regtervleuel Donvino Swartland en die binnesenter, Bokkie Carstens, het ’n dubbele driekuns aan drieë; twee elk vir die buitesenter, Lyn-Jay Hendricks, en Schalk Burger (flank); een elk vir Marshall Douman (heelagter); Nigel Patrick (linkervleuel); en ’n drie en ’n strafdrie vir Dua Gronewald (flank).

Die skrumskakel en kaptein, Michael Visser, het met nege doelskoppe geslaag. Douman, later ook die plaasvervanger-skrumskakel, het met twee doelskoppe geslaag en Carstens met die heel laaste doelskop.

Om uitblinkers uit te sonder is bykans onmoontlik, dus kan ’n mens net sê al 23 spanlede van Berge het hul beste gegee.

In die tweedespanwedstryd het Helderberg 12-25 in ’n verkorte wedstryd weens die afwesige skeidsregter gewen. Die o.20’s het sukkelend 10-13 teen Goodwood gewen.

Saterdag ontvang Helderberg vir Franschhoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article