’n Dertigjarige man is Sondagaand (19 Maart) in Magdeline Gila-pad in die Nyakatisha-informele nedersetting in Macassar doodgeskiet.
Volgens die Macassar-polisie het ’n verdagte aangestap gekom en op die oorledene losgebrand. Die oorledene het aan skietwonde beswyk en is deur die polisie op die toneel dood verklaar.
Tydens die skietery is ’n 31-jarige man deur ’n dwaalkoeël in sy linkerbeen getref.
Die slagoffer is ná die voorval na ’n mediese fasiliteit geneem.
’n Moord- en poging-tot-moord-saak is ná die voorval, wat kort voor 20:00 plaasgevind het, geopen.
Die slagoffer van die skietvoorval het aan die polisie gesê hy is nie seker waarom hy en die oorledene, wat naby hom gestap het, deur die gewapende verdagte geteiken is nie.
Die polisie het bevestig dat die motief vir die moord steeds nie bekend is nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die Macassar-polisie het bevestig dat hulle steeds op soek is na die verdagte, wat in ’n wit Peugeot-voertuig gevlug het.
Die ondersoekbeampte, sers. Jonathan Delport van die Macassar-polisie, doen ’n beroep op mense met meer inligting oor die skietvoorval om hom by die polisiekantoor by 021 857 7100 te bel.


