Die ywerige stapper Edna Brand het met haar deelname aan die Wêreld-meesters-atletiekkampioenskap in Finland nie net die Suid-Afrikaanse vlag hoog laat wapper nie, maar ook die gesogte titel as dubbele wêreldkampioen ingeryg.
Die Somerset-Wes-pensioentrekker is vroeër vanjaar gekies om die land in die atletiekbyeenkoms, wat van Woensdag 29 Junie tot Sondag 10 Julie in Tampere in Finland aangebied is, te verteenwoordig (“Edna stap pad aan’t brand,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 18 Mei). Sy het teen die wêreld se beste atlete van 87 lande meegeding en stof in die oë van die kompetisie geskop.
Dié 70-jarige lid van die Strand-atletiekklub het in verskeie afstande in die 70-plus-ouderdomsgroep op die baan deelgeneem en goud in die 10 km- en 20 km-padwedloop verower.
Edna vertel sy het Woensdag 29 Junie die 5 000m-spoedstap op die baan aangedurf en die item in 32:27:15 baasgeraak. Haar besonderse prestasie 13:00 die middag op dié snikhete dag het haar die silwermedalje besorg.
“Portugal het my met 15 sekondes geklop,” het sy gesê.
Die voorbeeldige atleet het Sondag 3 Julie die 10 km-padwedloop om die middaguur op nog ’n warm dag aangepak en haar eerste oorwinning in ’n tyd van 1:05:06 aangeteken.
Haar tweede skitterende goue prestasie het Woensdag 6 Julie gevolg toe seëninge tydens die 20 km-padwedloop op Edna neergestort het toe sy dit op ’n genadiglik koeler en reënerige dag aangedurf het.
“Al my verwagtinge is oorskry, en dit was ongelooflik om nie een keer nie, maar twee keer, op die boonste trappie van die podium te staan met ons land se lied wat vir my gespeel word,” het Edna oor haar prestasies gesê.
Op die vraag of sy ooit gedink het sy sou so goed vaar, het Edna gesê: “Hoewel ek geweet het my tye is wêreldklas, het ek steeds nie gedink ek sou as ’n groentjie op die wêreld-meesters-atletiekverhoog die podium haal nie. Baie mense het wel anders as ek gedink, en ek is bly ek het hulle nie teleurgestel nie.”
Edna het verder gesê haar volgende mikpunt sou ’n kompetisie in Pole wees. “Dit is oor nege maande, maar ek weet nie of dit vir my finansieel haalbaar is nie. Finland was – wat voorbereiding en geldsake betref – ’n baie groot spanpoging.”
Die boodskap wat sy graag aan ander uitstuur, is: “Jy is nooit te oud om ’n droom na te jaag nie, en laaste, maar nie die minste nie, moet nooit die krag van gebed onderskat nie.”
V Edna sal met ondersteuning haar volgende uitdaging kan aanpak en enige bydrae waardeer. Sy kan by 082 890 2024 bereik word.



