Bevan Alloys van Turn Around 180 (links) staan langs George Watkins, ’n opsigter by Eagle Bar- informele nedersetting, voor Watkins se huis. Sy huis is minute nadat die foto geneem is, deur kontrakteurs van die Stad Kaapstad afgebreek. Foto: Rick Marais


Hy probeer hard om sy hartseer agter ’n glimlag weg te steek, maar ’n mense kan sien die 76-jarige-inwoner van Eagle Bar- informele nedersetting se hart trek swaar aangesien hy moet agt jaar se lewe in ’n dag moet oppak en regmaak vir trek.

George Watkins, ’n opsigter by Eagle Bar- informele nedersetting, het twee weke gelede die tyding gekry dat hy asook 59 ander inwoners ’n paar dae oor het voordat hulle almal uit hul huise moet trek, en as hulle nie trek nie, kry elkeen ’n uitsettingsbevel. Die inwoners is ingelig hulle sou drie dae later, op Vrydag 8 Desember, verhuis na nuwe grond wat vir hulle in Morkel’s Cottage voorberei word (“Inwoners sal moet trek of …”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 13 Desember).

“Die meeste van ons is nou ingetrek; die mense het ons geen keuse gegee nie. Ek bly nou in ’n plekkie van drie meter by drie meter. Ek kom uit ’n groot huis, maar ons moet nou aanpas,” sê ’n verslane Watkins.

DistriksPos & Helderberg Gazette het Donderdag 14 Desember ’n draai by die inwoners van Eagle Bar gaan maak en die meeste van hulle het na die Stad Kaapstad geluister en begin oppak om te trek. Vragmotors en bakkies met sleepwaens het en vroeg dieselfde oggend aangekom om die inwoners te help trek.

Bevan Alloys van Turn Around 180, ’n organisasie wat die behoeftige gemeenskappe bystaan,was die dag van die trek juis daar om inwoners van Eagle Bar by te staan.

“Ek het as mediator opgetree om te sien of die Stad Kaapstad en die plaaslike raadslid hul werk reg doen en hul beloftes nakom. Ek dink nie die proses is goed hanteer nie. Die inwoners is nie betyds ingelig nie. Die mense moes ’n kennisgewing ontvang het. Die Stad se projek se prosesse is nie goed hanteer nie,” voeg Alloys by.

Die subraad 8-voorsitter en raadslid Chantal Cerfontein het bevestig al die inwoners van Eagle Bar het ingestem om te trek.

“Ek wil eerstens net noem dat ek die inwoners al op 15 Oktober ingelig het van die feit dat hulle sal moet trek. Die ablusie-fasiliteite van Eagle Bar is Maandag (18 Desember) afgeskuif na die nuwe grond in Morkel’s Cottage. Eagle Bar behoort nou al heeltemal leeg te wees, en ons gaan veiligheidsbeamptes daar plaas om seker te maak dat daar nie verder ‘squatting’ gaan plaasvind nie,” sluit Cerfontein af.

Die 60 nuwe inwoners het almal materiaal ontvang waarmee hulle hul nuwe huis kan bou. Die meeste van die inwoners is nog besig om hul huise aanmekaar te timmer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article