Jevonn Cloete is trots om sy dertigste verjaarsdag, sy nuwe pos as adjunkhoof asook die voltooiing van sy meestersgraad alles in dieselfde maand te vier.Foto: Edrea du Toit


’n Onderwyser van Rusthof LSEN-skool het onlangs twee van sy lewensdrome verwesenlik – een kom in die vorm van ’n bevordering en die ander in die vorm van ’n nuwe graad agter sy naam.

Jevonn Cloete, wat verlede jaar aangestel is as die waarnemende adjunkhoof by die skool en wat vir ’n AU-onderwysprys benoem is, het onlangs 30 geword en hy is nou amptelik as adjunkhoof by die skool aangestel.

Dié Gordonsbaaier het die provinsie sowel as die land se prys vir spesialebehoefte-onderrig in 2021 ontvang (“Onnie vir uitmuntendheid vereer” en “Onnie wen SA se topprys”, DistriksPos, 9 September 2021 en 14 Oktober 2021).

“Ek het my 30ste verjaardag aan die begin van Maart gevier, in dieselfde maand is ek bevorder. En op Donderdag 30 Maart het ek met my meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer. Dit het alles so in een gekom – in die maand van my verjaarsdag. Die maand het ’n klomp hoogtepunte vir my ingehou,” sê Cloete.

Hy erken dat 30 ’n baie jong ouderdom vir ’n adjunkhoof is, maar ouderdom is vir hom bloot net ’n syfer.

Cloete se passie vir leerders met spesiale behoeftes is so groot dat hy dit steeds sy missie maak om te bewys dié leerders kan opgevoed word.

Dit is juis hoekom hy verlede jaar ’n finalis vir die AU-onderwysprys was – omdat hy ’n onderwyser is wat ten spyte van moeilike omstandighede steeds die beste onderwyser moontlik is en nogtans uitblink.

“Die pos as adjunkhoof vir iemand so jonk is ongewoon. Ons jong mense kry nie gewoonlik die kans om so jonk so ’n posisie op te neem nie. Ek was van April verlede jaar tot die einde van Februarie vanjaar die waarnemende adjunkhoof, dus was ek eintlik al verlede jaar in die pos. Ek is nou net amptelik in die pos aangestel.”

Hy vertel die skool het een adjunkhoof en een hoof, en dan is daar 300 leerders by die skool.

Cloete, wat nog groot drome vir die toekoms het, bieg dat hy nie nou al sy planne kan uitlê nie.

Hy is wel ’n uitmuntende plaaslike onderwyser om in die toekoms dop te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article