DistriksPos & Helderberg Gazette het voorheen berig dat altesaam vier lyke wat in die gemeenskap gestort is, sedert Saterdag 27 Mei in Macassar ontdek is. Die laaste lyk is op Saterdag 3 Junie gevind. Sedertdien is drie al geidentifiseer en uitgeken.


Drie uit die vier gestorte lyke wat in Macassar ontdek is, is amptelik uitgeken.

Dit nadat die Macassar-polisie verlede week ’n hernieude beroep op die Helderberg se inwoners gedoen het vir inligting wat moontlik kan help om die lyke wat binne ’n week in die gemeenskap ontdek is, te identifiseer.

DistriksPos & Helderberg Gazette het vroeër berig dat altesaam vier lyke wat in die gemeenskap gestort is, sedert Saterdag 27 Mei in Macassar ontdek is. Die laaste lyk is op Saterdag 3 Junie gevind (“Lyke in Macassar aangetref,” 7 Junie).

Die lyk van ’n onbekende vrou is Saterdagmiddag (27 Mei) by Macassar-strand aangetref. ’n Dag hierna, op Sondagmiddag 28 Mei, is die lyk van ’n man, wat vermoedelik die slagoffer van moord was, in ’n beboste gebied in Macassar-weg gevind. Donderdagmiddag 1 Junie is nog ’n lyk, ook dié van ’n man, in Macassar-weg, waar dit glo in ’n plas water gelê het, ontdek. In die mees onlangse voorval op 3 Junie is ’n vierde lyk in die beboste gebied in Macassar-weg aangetref – ongeveer ’n kilometer van waar Donderdag se lyk gevind is.

Teen die koerant se druktyd verlede week was nie een van die lyke nog in ’n formele uitkenningsproses geïdentifiseer nie. Die Macassar-polisie het egter vroeër vandeesweek bevestig dat drie sedertdien al uitgeken is.

Die vrou wat halfnaak uit die water by Macassar-strand gehaal is nadat ’n visserman die lyk op die water sien dryf en owerhede ontbied het, is as die 25-jarige Sharaleen Isaks van Delft geïdentifiseer. ’n Geregtelike doodsondersoek is aanvanklik geopen, maar volgens ’n polisiewoordvoerder het die saak ’n nuwe wending geneem toe die nadoodse ondersoek moord bevestig het.

“Die nadoodse ondersoek het bevestig dat die slagoffer verwurg is,” het die polisiewoordvoerder gesê.

’n Verdagte is Maandagaand in verband met die moord in hegtenis geneem.

Die vermeende moordslagoffer wat Sondag omstreeks twaalfuur met gesigwonde naby die Macassar-rioolaanleg aangetref is, is as die 29-jarige Tyran Nicholas Anthony van Strand uitgeken. Volgens die polisiewoordvoerder is omstandighede rondom Anthony se dood onbekend en volg speurders onverpoos leidrade op.

Verlede Saterdag se lyk wat omstreeks 17:30 deur verbygangers in die beboste gebied in Macassar-weg gevind is, is as die 40-jarige Zuko Njali van Khayelitsha uitgeken. Volgens die polisiewoordvoerder wil dit voorkom asof die oorledene weens natuurlike oorsaak beswyk het.

Die plaaslike raadslid en gemeenskapsaktiviste het weens die gruvondste die kollig geplaas op die uitgebreide Eskom-kragonderbrekings, waaronder die gemeenskap erg gebuk gaan, asook die plaaslike polisiekantoor se gebrek aan hulpbronne wat doeltreffende dienslewering in die wiele ry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article