Wyle Abdullah Daggia

Credit: SYSTEM

Die borgtogverhoor van die drie verdagtes wat teregstaan weens die moord op die 33-jarige Abdullah Daggia van Strand sloer steeds voort.

Daggia is Woensdag 18 Mei op die hoek van Eerste- en Visserstraat vermoedelik vir sy selfoon doodgesteek.

Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers is kort ná sy dood aangekeer (“Vier vra borgtog ná twee moorde”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 25 Mei).

Toe die verdagtes in September, nadat hulle dit ’n vorige keer teruggetrek het, weer aansoek om borgtog gedoen het, was een van die redes dat hulle deur familielede ingelig is dat die gemeenskap nou “rustiger” is en dat dit dus vir hulle nou weer veilig is om vrygelaat te word.

Twee van die drie verdagtes is in Mei deur lede van die publiek aangekeer. Hulle is agter in ’n bakkie gegooi en na die polisie geneem – dit terwyl lede van die publiek om die bakkie saamgedrom en die twee verdagtes allerhande beledigings toegesnou het.

Jantjies was in absentia tydens die eerste paar hofverskynings. Hy het destyds nog behandeling ontvang weens ’n rugbesering wat hy glo tydens sy aanhouding opgedoen het.

Hy het egter verlede Donderdag (6 Oktober) in die Strand-landdroshof verskyn om redes te gee oor waarom sy borgtog toegestaan moet word.

Volgens ’n vertroulike bron by die Strand-landdroshof het die ondersoekbeampte in die saak redes voorgehou waarom borgtog nie toegestaan word nie.

Die saak is tot môre (Donderdag 13 Oktober) uitgestel, wanneer Adams en Hammers hul beurt sal kry om aan die hof te vertel waarom hulle borgtog moet kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article