Gemeenskapslede is opnuut herinner aan die Stad Kaapstad se 48-uur-wagtydperk vir dienslewering nadat ’n Lochnerhof-inwoner ’n drie dae lange watertoevoer-ontwrigting moes verduur.
Michiel van Zyl het hom tot die koerant gewend nadat hy voorverlede Dinsdag (30 Januarie) agtergekom het hy het geen water by sy woning nie – dít nadat hy van sy gastehuis se matte wou was en amper ’n uur moes aanhou om die probleem by die Stad aan te meld. Toe hy eindelik deurkom, is hy ingelig dat ’n twee dae lange wagtydperk vir dié soort versoeke geld.
“Ek moes met drie mense praat en die heeltyd op die lyn aanbly en aan die einde van die oproep het ek nog geen verduideliking oor wat die probleem was of kon wees nie,” kla hy.
Verder is hy ook glo deur die Stad se werknemer ingelig dat hy nie voor 18:00 in die dag sulke kwessies kan aanmeld nie en dat daar ’n 48-uur- wagtydperk is voordat aandag aan die probleem geskenk sal kan word.
“Ek besit en bestuur baie huise, waarvan een ’n gastehuis met drie woonstelle is.
“Ek wou net weet wat die probleem is en waarom daar geen water is nie,” verduidelik hy.
Die Stad Kaapstad se werkers het Donderdagaand (1 Februarie) teen 19:49 opgedaag om ’n elektriese meter te kom vervang.
“Ek is egter ingelig dat die werkers ’n halfuur tevore eers ingelig is dat hulle die werk moes kom doen, maar hulle het verduidelik hulle was vir die vorige 48 uur glad nie eens bewus van die probleem nie,” brei hy uit.
Zahid Badroodien, die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê die “service request (C3 notification)” is op 30 Januarie aangeteken en aan een van die Stad se spanne oorhandig.
“Tydens die inspeksiewerk het die span agtergekom die watermeter aan die buitekant van die woning was foutief en is dit met ’n nuwe konvensionele meter vervang,” sê Badroodien.
Hy het verder bevestig dat die watertoevoer na die huis Donderdag 1 Februarie herstel is.
“Die Stad Kaapstad poog om enige diensversoeke binne die kortste tyd moontlik af te handel. Dit val binne die 48 uur, wat ons standaard diensreaksietyd is.
“Dit gee die spanne die nodige tyd om inspeksies en herstelwerk uit te voer afhangend van die omvang van die herstelwerk wat benodig word,” verduidelik Badroodien.


