Die Strand-polisie ondersoek ’n sakerooftog nadat ’n drankwinkel in Abegglenstraat in die Strand op Vrydag 20 Desember beroof is.
Volgens ’n woordvoerder van die Strand-polisie het die voorval omstreeks 15:20 plaasgevind toe vier verdagtes by Strand Drank Kelders opdaag.
“Hulle het die winkel ingegaan en die 42-jarige winkelier met ’n vuurwapen gedreig,” het die polisiewoordvoerder gesê.
Dit word beweer dat die verdagtes die winkelier met ’n vuurwapen teen die kop geslaan het, en dit het ernstige bloeding veroorsaak. Die verdagtes het gevlug met kontant en drank van ongeveer R31 500.
Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die Strand-polisie by 021 854 9100 te skakel.
- In ‘n onverwante insident, het die Strand-polisie twee mans in hegtenis geneem in verband met ’n poging tot motorkaping in Kusweg in die Strand op Sondag 22 Desember.
Volgens ’n woordvoerder van die Strand-polisie het die 22- en 26-jarige verdagtes omstreeks 05:45 ’n e-taxibestuurder probeer beroof nadat hulle deur ’n app ’n rit van Rusthof na Kusweg versoek het.
Toe die bestuurder by die aflaaipunt stilhou, het die mans hom glo van sy voertuig en besittings probeer beroof. Polisiebeamptes op patrollie het op die toneel afgekom en die verdagtes in hegtenis geneem.




