Lea Coetzee en haar Sir Lowry’s Pass-dramagroep is terug – met ’n knal.
Die passievolle self-opgeleide dramaturg is druk besig met ’n splinternuwe geesteskind van haar – ’n vervolgprent wat beloof om veel groter en beter te wees as haar vorige film.
Die dramagroep “It’s All About Drama” se nuwe fliek getiteld Tik Verwoes Huisgesin: Deel Twee is aan die kom en sal op Vrydag 11 Oktober verfilm word.
Die storie begin waar deel een geëindig het, en aanhangers van dié kortfliek-reeks kan uitsien na Coetzee se kenmerkende pen-en-passie wat die teaterproduksie in ’n rolprent verander en lewe skenk aan stories.
Daarbenewens bring Protea Video-klub ’n meer filmiese verfilmingstyl met die nuwe kameraspan.
“Ons gaan probeer om ons tegniese kennis en kreatiwiteit te gebruik om Lea se visie te verwesenlik,” het die klub-voorsitter, Johan Rothmann, gesê.
Ná die sukses van die eerste deel het een van die klublede die fliek vir Rothmann gewys. Dié 68-jarige kenner kon sien wat die groep in staat is om te doen – al wat hulle kortkom, is ’n bietjie hulp en beter toerusting. Hy het toe sy kennis aangebied om die klank en die redigering te verbeter.
Toe Coetzee die skrif vir die tweede deel klaargemaak het, was die eerste kinematograaf onbeskikbaar. Sy het toe vir Rothmann genader. Hy was te bly om te help omdat hy glo aan die 55-jarige se werk en visie. “Lea se werk stuur ’n boodskap aan die gemeenskap oor die gevare van dwelmgebruik. Die storie kan help om kinders wat die fliek sien, beter geleenthede te gee,” sê Rothmann as verduideliking hoekom hy wou help.
Coetzee is al 18 jaar besig om haar drome te bewaarheid. Sy skryf al haar eie stories sedert die ouderdom van 19 (“Dramaturg droom groot,” DistrikPos & Helderberg Gazette, 27 September 2023).
Soos die meeste van haar stories het die dramaturg die eerste deel van Tik Verwoes Huisgesin geskryf met inspirasie van haar eie ervaring met ’n familielid se dwelm-gewoonte. Met die tweede deel het sy gevoel dat sy die kykers moet wys daar is hoop en ’n uitweg uit dwelms.
Die Sir Lowry’s Pass-inwoner gebruik steeds dieselfde formule om haar stories te vertel. Sy vat die mense van Riemvasmaak en gebruik informele wonings in die buurt om die narratief uit te speel.
Hulle oefen daagliks in Coetzee se tweeslaapkamerwoning.
“Ek is deel van die groep om ’n verskil te maak in my gemeenskap, maar dit hou my ook weg van negatiewe goed,” het Cherise MacDonald (14), wat ’n tikverslaafde in die fliek speel, gesê.
Coetzee is nog nie klaar nie – sy werk aan twee ander stories. Met alles wat in die gemeenskap gebeur, is dit nie altyd maklik nie, maar die groep druk deur, want hulle wil die stemme vir hul mense wees. “Ek wil net hê Sir Lowry’s Pass moet weet dat daar mense is wat hul talente gebruik om aan die probleme te werk, en hierdie jong mense wil ’n verskil maak op die plek waar hulle woon,” het Coetzee gesê.



