’n Skietvoorval wat Maandag (19 Junie) in Georgepark, Strand, plaasgevind het, het party mense hul kop laat krap oor waar die voorval eintlik plaasgevind en wat gebeur het.
Sake van moord en poging tot moord is deur die Strand-polisie geopen nadat ’n 41-jarige-man dood verklaar is op ’n skiettoneel in De Kock-straat.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig dat ’n skietery tussen verskeie mense voor ’n paneelklopper in die De Kock-straat waar daar gereeld aan minibus-taxi’s gewerk word, uitgebreek het.
Daar was egter twee afgebakende misdaadtonele, een in De Kock-straat en een direk voor Strand-brandweerstasie in George-straat waar paramedici besig was om ’n slagoffer wat glo ook geskiet is, se lewe te probeer red
Beukes het die voorval ’n taxi-verwante skietery genoem.
“Op Maandag teen omstreeks 14:30 het die slagoffer wat sy lewe verloor het ’n paneelklopper genaamd Mr T-Bodyworks besoek om te kyk hoe vorder die herstelwerk aan van sy taxi’s. Nadat hy terug in sy voertuig (’n grys Ford Ranger) geklim het, is hy onkant betrap deur ’n groep manlike verdagtes met vuurwapens. Verskeie skote is op die voertuig afgevuur,” sê Beukes.
’n Omstander by die toneel in De Kock-straat het beskryf hy het gehoor hoe die skote herhaaldelik klap.
Die slagoffer, wie se naam bekend is aan DistriksPos & Helderberg Gazette maar nie genoem kan word nie aangesien sy familie nog nie in kennis gestel is van sy dood nie, is van die lewe ontneem terwyl hy aan die bestuurderskant van die voertuig gesit het. “Die passasier is ook in die voorval geskiet, maar kon na Strand-brandweerstasie vlug waar hy mediese hulp ontvang het. Hy is gestabiliseer en na Helderberg-hospitaal geneem,” voeg Beukes by.
Teen die koerant se druktyd Dinsdagoggend (20 Junie) kon die polisie nie bevestig hoeveel verdagtes daar was nie. ’n Ondersoek is van stapel gestuur, maar in dié stadium wil die Strand-polisie nie uitbrei oor die redes vir die skietery nie.



