Die ma van ’n 30-jarige vrou is in diep rou gedompel nadat haar dogter verlede Donderdag (10 Maart) in ’n stryery doodgesteek is.

Ronelle McKay van Macassar Village en ’n 24-jarige vrou aan wie sy bekend was, het oor sokkies gestry.

Volgens die polisie het die slagoffer verdedigingswonde opgedoen soos sy teen haar aanvaller baklei het en sy is dood weens een van die steekwonde wat sy aan die bors opgedoen het.

Die voorval het op die hoek van Leonard Doman-pad en Gail Arendse-rylaan plaasgevind.

Rosie Hendricks sê haar huis voel leeg ná haar dogter se dood.

“My man is twee jaar gelede aan kanker dood en nou het ek my dogter ook verloor. My hart is stukkend,” sê Hendricks.

Sy sê ’n ooggetuie het haar vertel dat ’n Okapi-mes in die voorval gebruik is en dat die steke hard toegedien is.

“Ek het my kind in die pad sien lê. Ek het gedink sy het uitge-pass, maar sy was al dood.”

Die verdagte het Maandag (14 Maart) in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn en moet weer volgende Donderdag (24 Maart) vir ’n formele borgtogaansoek in die hof wees.

’n Deurry-gedenkdiens word vandag (Donderdag) vir Ronelle gehou en haar verassingsdiens vind Saterdag (19 Maart) om 09:00 in die Nuwe Apostoliese kerk in Macassar plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article