Die Macassar-polisie ondersoek verskeie sake van strafbare manslag nadat paaie in die polisiëringsgebied hul tol met vier noodlottige ongelukke geëis het.
Twee voetgangers is in twee afsonderlike padongelukke op die berugte N2 doodgery terwyl twee motorbestuurders in twee afsonderlike botsings hul lewe agter die stuurwiel verloor het.
Die mees onlangse voorval het Maandag (24 Junie) douvoordag voor die Engen-vulstasie afgespeel en ’n 38-jarige man van Macassar Village se lewe kortgeknip.
Volgens ’n polisiewoordvoerder is polisiebeamptes omstreeks 06:30 na die ongelukstoneel ontbied.
Die slagoffer is na bewering deur ’n Toyota Quantum, wat op die snelweg in die rigting van Somerset-Wes na die vulstasie onderweg was, getref.
Die slagoffer was glo in ’n swart baadjie en broek geklee en dit was nog donker en mistig toe hy blykbaar die pad wou oorsteek en skielik voor die minibustaxi met talle insittendes ingeloop het.
Hy het aan ernstige beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar.
Die voorval is voorafgegaan deur nog ’n padongeluk wat verlede Maandagoggend (17 Junie) ’n jong man van sy lewe ontneem het.
Volgens die polisiewoordvoerder AO Desire Adendolf het twee polisiebeamptes, wat die omgewing in ’n voertuig gepatrolleer het, Maandag omstreeks 07:00 op ’n klagte van ’n ongeluk net ná die Kramat-brug gereageer. ’n Voetganger is deur ’n Volkswagen getref en het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Die Macassar-polisie doen ’n beroep op die gemeenskap vir inligting wat kan help om die onbekende slagoffer te identifiseer en naasbestaandes op te spoor. Die oorledene is ’n vermeende swartman met ’n ligter gelaat wat vermoedelik tussen die ouderdom van 25 en 30 jaar is. Hy was in ’n olyfkleurige kappie-top en oranje broek geklee.
Enigiemand met leidrade wat tot ’n positiewe uitkenning kan lei, word versoek om die polisiekantoor by 021 857 7100 te skakel.
Die noodlot het verlede Maandagmiddag (17 Junie) weer toegeslaan toe ’n motorbestuurder op die snelweg verongeluk het. Volgens ’n polisiewoordvoerder is beamptes omstreeks 14:00 na die toneel waar die voertuig, ’n swart Volkswagen Golf, teen ’n boom langs die N2 net ná die Macassar-brug gebots het.
Die bestuurder, ’n 41-jarige Namibiese man van die noordelike voorstede, is ’n dag voor sy verjaardag in die botsing oorlede.
Twee insittendes van die voertuig is met ernstige beserings na plaaslike hospitale vervoer.
“Die omstandighede rakende die voorval is steeds onbekend, en die gemeenskap se hulp word gevra vir inligting wat kan help om vas te stel wat presies gebeur het,” het die polisiewoordvoerder gesê.
Mense met inligting wat dalk tot ’n deurbraak in die polisieondersoek kan lei, kan speursersant Norman Ngonelo by die Macassar-polisiekantoor bel.
Nog ’n ongeluk wat Saterdagaand (22 Junie) by die Sitari-kruising op die R102 afgespeel het, het een slagoffer geëis en drie ander, onder wie twee kinders, met ernstige beserings in die hospitaal laat beland.
Die botsing het omstreeks 21:00 gebeur toe twee motorvoertuie by die verkeerslig gebots het.
Die botsing het gebeur toe ’n pa van Macassar (46) en sy kinders, 15 en 11, in hul Audi regs op die R102 gedraai en die bestuurder van ’n Volkswagen Golf reg deur die kruising vanuit Somerset-Wes in die rigting van Eersterivier beweeg het.
Die plaaslike ouer, wat na bewering onderweg was om kitskos by ’n nabygeleë eetplek te gaan koop, het noodlottige beserings opgedoen terwyl sy kinders en die ander bestuurder ernstig beseer is.


