Ds. Frikkie van Niekerk, die leraar van die NG kerk Strand se Moederge­meen­te, aan die woord by die verrigtinge van die Koinonia Sinode se saamtrek.


Die NG kerk Strand se Moedergemeente het voorverlede Vrydag (24 November) ’n groot saamtrek van dolerende NG kerk-gemeentes, lidmate en belangstellendes vanuit die Oos-, Wes-, Noord-Kaap en elders ontvang.

Dit was die tweede in ’n reeks van drie landswye streekkongresse van Skrifgetroue NG gemeentes en -lidmate wat deur Koinonia Sinode gereël is. Hierdie groep gelowiges weier om weer slawe te word van dwaalleer en kerklike hiërargie van die Algemene Sinode.

Die implikasie van hierdie keuse is dat die lidmate, ampsdraers en mindere kerkvergaderings hulle in woord en daad distansieer van die Algemene Sinode van die NG kerk en ander kerkvergaderings wat nie meer die merktekens van die ware kerk van Christus genoegsaam vertoon nie, die gesag van die skrif ondermyn, van die gereformeerde leer afgewyk het, in kerklike wanorde verval het, wêreldgelykvormig geword het, nie meer die uniekheid van die evangelieboodskap handhaaf nie en die Christelike huwelik gerelativeer het.

Verder verwerp die dolerendes die besluite van die Algemene Sinode en ander kerkvergaderings wat hieruit voortvloei en ag hierdie besluite nie as bindend nie, omrede besware daarteen ingedien nie na behore aangehoor en oorweeg is nie, maar by herhaling met minagting hanteer is.

Dolerendes voel hulle kan nie meer deel wees van ’n bestel waar die Woord van God nie meer suiwer verkondig word nie, die sakramente in vele opsigte ontheilig word en die kerklike tug nie na behore beoefen word nie.

Op die vergadering is ’n raamwerk bespreek wat gemeentes vir die pad vorentoe kan volg. Die boek, Die Kerk met die Verkeerde Baas, geskryf deur ds. Gerhard Mahne, het onlangs verskyn en stel grootliks die geskiedenis van die doleer-beweging op rekord. Die boek is ook bevorder.

Meer inligting oor die pad wat vrygemaakte NG gemeentes loop, kan verkry word op die webblad https://koinoniasinode.org.za of mense kan met Gerrie van Niekerk per WhatsApp by 082 264 9710 kommunikeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article