Owerhede op die toneel waar ’n aflewerings­voertuig van ’n plaaslike verskaffer van diesel-brandstof in ’n botsing op die R102 betrokke was. Die bestuurder is in die hospitaal nadat hy beheer oor die voertuig verloor het wat diesel in ’n brandstoftenk op ’n sleepwaentjie vervoer het.Foto: Jamey Gordon


Die bestuurder van ’n afleweringsvoertuig vir ’n plaaslike verskaffer van diesel-brandstof is met beserings in die hospitaal opgeneem nadat hy ’n botsing op die R102 in Somerset-Wes oorleef het.

Die voorval het Vrydagoggend (12 Januarie) oorkant die weegbrug net ná die R44-afrit plaasgevind toe die bestuurder weens onbekende redes beheer verloor het oor die wit Mahindra-voertuig wat diesel in ’n brandstoftenk op ’n sleepwaentjie vervoer het. Die voertuig, met die sleepwa agterna het na bewering van die pad af gery en waarskynlik gerol voordat dit in ’n sloot langs die pad beland het.

Met DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms op die toneel is die voertuig op sy dak aangetref nadat dit oënskynlik ’n draadheining getref het.

’n Gedeelte van die R102 in die rigting van Kuilsrivier is tussen die R44-oprit en weegbrug vir verkeer gesluit. Verkeersbeamptes het motoriste via die R44 herlei terwyl die ongelukstoneel opgeruim is.

Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, is brandweerspanne om 09:12 na die ongelukstoneel ontbied. Met hul aankoms was verkeersbeamptes en ander personeel sowel as ’n reddings­voertuig van die mediese nooddienste (EMS) van die Wes-Kaapse departement van gesondheid reeds op die toneel.

“Die voertuig en sleepwa met 1 500-liter diesel het gerol en op sy dak beland. Die bestuurder en alleen-insittende is kort ná die voorval na ’n nabygeleë hospitaal vervoer,” het Carelse gesê.

“Brandweerpersoneel het skuim gebruik om die gebied te bedek en is later bygestaan ??deur Spill Tech, wat die gestorte diesel skoongemaak het.”

Volgens Kevin Jacobs, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se verkeersdiens, het beamptes twee bane op die R102 ná die R44 in die rigting van Kuilsrivier gesluit en eers om 14:05 heropen.

Die koerant het die eienaars van die onderneming, wat in Strand is, om kommentaar genader. Hoewel ’n eienaar verduidelik het hulle kan in hierdie stadium nie veel oor die “verskriklike ongeluk” sê nie, is die 45-jarige bestuurder steeds in die hospitaal.

“Die voorval was ’n groot skok vir ons as werkgewers en verskaffers van brandstof, wat veral met beurtkrag in groot aanvraag is. Hoewel die ongeluk die sakebedrywighede kniehalter, is die belangrikste dat daar geen verlies van lewe is nie. Ons werknemer het die voorval wonderbaarlik oorleef en ons is opreg dankbaar. Ons werk soos ’n familie saam en die voorval het ons opnuut laat besef dat wanneer ons bestuurders agter die stuurwiel inskuif en die paaie aandurf, hulle nie net vir hulself moet dink nie, maar ook vir ander motoriste,” het die eienaar gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article