Die omgeslane vragmotor lê langs N2 by Sir Lowryspas na Donderdag 3 Julie se ongeluk
Die vragmotor lê op sy sy by die haarnaald-draai in Sir Lowryspas op die N2 nadat dit Donderdag (3 Julie) omgeslaan het. Foto: Barend Williams

Die eienaar van die maatskappy wie se vragmotor die afgelope Donderdag (3 Julie) in Sir Lowryspas omgeslaan het, beweer die ongeluk is veroorsaak weens diesel op die N2-snelweg se padoppervlakte.

Die swaar vragmotor het van Grabouw af gekom en was op pad in die rigting van Kaapstad toe dit omstreeks 08:15 op die besige Sir Lowryspas-gedeelte van die N2 omgeslaan het. Dit nadat die bestuurder by die haarnaald-draai van die pas beheer verloor het.

Die vragmotor het as gevolg daarvan oor die bane beweeg en deur die versperrings aan die teenoorgestelde kant van die N2 by die heuwel afgerol.

Dirkie Coetzee, die eienaar van DC Logistics, die maatskappy aan wie die vragmotor behoort, het bevestig die bestuurder was op pad na die Kaapstad-hawe toe die ongeluk gebeur het. Hy beweer die mengsel dieselstortings en die reën wat die pad nat gemaak het, het veroorsaak dat die vragmotor gegly het.

Gelukkig was geen ander voertuie in die ongeluk betrokke nie.

Die bestuurder het geringe beserings opgedoen en is deur nooddienste na ‘n plaaslike private hospitaal vervoer, maar Coetzee het bevestig hy is later dieselfde dag ontslaan.

Volgens Muneera Allie, ‘n woordvoerder vir die provinsiale mobiliteitsafdeling, het die provinsiale verkeersdienste, die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste asook die Gordonsbaai-polisie spoedig op die toneel gereageer om die situasie onder beheer te bring.

Die pad was Donderdag weens die ongeluk gesluit en verkeer is via die R44-Clarence-pad herlei.

Die voertuig se vrag is Donderdagaand teruggekry en die vragmotor is Vrydag (4 Julie) omstreeks 14:15 ontruim. Die ontruiming het erge verkeersopeenhopings veroorsaak, maar nadat die vragmotor verwyder is, het die vloei hervat en was die pad weer oop.

‘n Ongeluksverslag is aangeteken, maar geen saak word tans deur die polisie ondersoek nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article