Marvin Park Primêre Skool se leerders sal nou die wêreld kan verken nadat die skool ’n splinternuwe rekenaarkamer van die Suid-Afrikaanse Mediese en Onderwysstigting (Same) ontvang het.
Die toegeruste kamer is op Donderdag 5 September aan die skool oorhandig en die leerders kon nie genoeg kry van die nuwe toerusting nie. “Hulle is so opgewonde en wil net by die rekenaars wees,” sê die prinsipaal van Marvin Park, Roekyda Kuys.
Die skool het die kamer ernstig benodig, want sy ou rekenaarkamer kon nie al die klasse hanteer nie. “Ons het 1 470 leerders in ons skool en het nie genoeg rekenaars vir almal gehad nie. Soms moet drie leerders op een rekenaar werk,” verduidelik Kuys.
Dit is nie die eerste keer dat Same en Marvin Park saamwerk nie – die stigting het ’n wetenskaplaboratorium in 2022 aan die skool geskenk.
Same het toe weer verlede jaar teruggekom en die rekenaarkamer aan Marvin Park voorgestel. Ná die voorstelling het die konstruksie net ’n paar maande geduur omdat die bouers so hard gewerk het.
Same is ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat spesialiseer in gemeenskapsontwikkelingsprojekte in die mediese en onderwyssektore. Hulle het al 150 projekte in die afgelope 20 jaar voltooi.
“Ons is so dankbaar vir instellings soos Same wat dienste aan gemeenskappe soos Macassar lewer. Dit help om seker te maak dat ons leerders die beste opvoeding kry. Die leerders kan nou reg oor die wêreld ‘besoek’ wanneer hulle die nuwe rekenaarkamer gebruik,” sê Kuys.



