Met vandag wat Nasionale Vrouedag (Woensdag 9 Augustus) en Augustus wat Vrouemaand is, het DistriksPos & Helderberg Gazette gaan aanklop by drie vasvat-vroue wat elkeen op hul eie unieke manier ’n verskil maak in die lewe van mede-Helderbergers en as kampvegters met omgeeharte ook ander vroue inspireer.
Hoewel verskillend in baie aspekte, het Francina Lucas, Rhoda-Ann Bazier en Patricia van Wyk wel een iets in gemeen – elkeen streef daarna om die lewe van ander te verbeter en die samelewing ’n beter plek vir ieder en elk te maak. Die onbaatsugtige moederhenne mag dalk onbekend wees aan baie in die Kom, maar is huishoudelike name in hul tuisdorpe waar hul raakvat, dinge laat gebeur en harte met liefdevolle aksie opbeur.
Lucas is ’n Casablanca-gemeenskapsaktivis en is bekend vir haar professionele rol as voorsitter van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se provinsiale raad. Sy is van mening vrouwees beteken nie juis dat jy minder as die teenoorgestelde geslag is nie, maar dit stel jou in staat om dinge net so goed as die man te kan doen.
Van Wyk steun Lucas se punt en verduidelik dat vroue daar is om ondersteuning aan mekaar te bied.
“Vroue speel ’n baie belangrike rol in ons huise. Vroue word uitgebuit en op neergekyk in ons gemeenskappe maar daar is juis so baie inspirerende vrouens na wie toe ons kan opkyk vir inspirasie,” sê sy.
Bazier, voorsitter van die gesondheidsforum in Macassar, is van mening om vrou te wees is so ’n belangrike rol juis omdat hul moeders kan wees. “’n Vrou is sag. Sy gee om vir haar familie en medemens. Vroue kon in die geskiedenis nooit in ’n magsposisie gesit word nie, maar ná 1994 kon vroue hierdie rolle begin volstaan. Elke vrou moet seker maak dat hul droom bewaarheid kan word,” sê Bazier.
Lucas bevestig vroue hoef nie altyd aktief te patrolleer of ’n aktiewe lid van ’n buurtwag te wees om ’n verskil te maak en om misdaad te help beveg nie.
“As ’n vrou oplettend is en weet wat aangaan in haar gemeenskap, dan kan sy ook ’n verskil maak. As vroue moet ons op die uitkyk wees en goeters sien wat verdag lyk. As iets uit plek lyk, dan moet dit aan die polisie of GPF gerapporteer word,” sê sy.
Van Wyk, wat aan haar man, Colin, se sy by die Bethesda Evangeliese kerk in die berugte Broadlandspark dien, is van mening charity begins at home, selfs wat misdaad betref. Sy meen vroue kan misdaad begin beveg deur te begin in hul huis en deur uit te praat oor dinge wat nie reg is nie en om misdaad aan die regte partye te rapporteer.
Bazier voeg by: “Vroue kan deel uitmaak van gemeenskapsveiligheid. Hoe bevry jy jou familie van gevare daar buite? Vroue kan aansluit by vroue-klubs, maar ontmoet ook jou bure en staan saam. Ons moet begin by onsself. Hoe is ons grootgemaak? Ons is nie so grootgemaak nie. Ons moet die leiers van môre versterk en hulle wys hoe om dissipline te handhaaf.”
Maar hoe beskerm ’n vrou in vandag se lewe haarself en haar gesin? Lucas noem vroue moet hulself beskerm deur bewus te wees van wat om hul aangaan en om hulself nie maklike teikens vir misdadigers te maak nie.
Van Wyk glo as ’n spirituele leier in die gemeenskap ’n mens nie vuur met vuur beveg nie. “Ons as vroue word verswak deur vrese en woede. Ons moet vroue onderrig oor hoe om hul menseregte te gebruik. Ons moet handevat met die polisie, buurtwagte, organisasies en ander kerkleiers om te assisteer met berading en verwysings,” sê sy.
Bazier vertel in Macassar is daar deesdae so baie inbrake en dis belangrik vir ’n vrou om als om haar dop te hou.
“Hou die winkel en strate dop. Ek lig altyd die kinders in om altyd om hulle te kyk. As ek sien kinders baklei, dan stop ek om daardie bakleiery te stop. By die polisiestasie stop ek en ek vra die mense of hulle gehelp is. Baie mense soek hulp vir kinders wat verslaaf is, dan sal ek hul verwys na die regte mense wat hulle kan help. Dis hoe ek probeer om te help.”
Lucas glo as jy ’n vrou en ’n kind in jou gemeenskap raaksien wat nie skool toe gaan nie, jy met hom of haar moet gaan praat. “Gaan praat met hom of haar want jou kind is my kind en my kind is jou kind. Ons is daar om na mekaar om te sien.”
Volgens Van Wyk begin alles in ’n mens se eie huis en dis juis waar ’n vrou die verskil moet maak. “Spandeer kwaliteit-tyd saam jou kinders en kleinkinders. Die oorsprong van alle kwaad (wat ons ondervind) spruit voort uit gebroke families. Ons moet ook gaan aanklop vir hulp want ons kan nie al die kwale in ons gemeenskappe alleen takel nie,” verduidelik sy.
Bazier sê vroue moet nie skroom om die polisie in te lig as hul iets (of iemand) sien wat nie behoort in hul gemeenskappe nie. “As iets in die huis (nie alle huise nie) verkeerd is waar kinders gemolesteer word en waar die pa betrokke is. Moenie kant kies nie. Luister na albei. Maar moet dan nie bang wees om die polisie in te roep nie.”
Van Wyk vertel vroue moet juis rolmodelle wees vir jong meisies. “Vra jouself af hoe sal die gemeenskap wees as almal soos ek is. Kom ons los ’n nalatenskap waarop ons mense trots kan wees.”
Bazier maan vroue om hulself te bemagtig. “Ons vroue moet hulself onderrig rondom die rol van ’n vrou, die rol van ’n ma en die rol van ’n vroulike gemeenskapswerker. Beskerm jou familie en reik ’n hand uit na buite,” sê sy.
Lucas herinner vroue hulle moet onthou toe God vir hulle geskape het, het Hy sy tyd gevat en hulle perfek gemaak. “Ons is van Sy beste werke. Ons is goud werd en as jy as vrou nie na jouself omsien, kan jy nie omsien na ander nie.”



