Strand-polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat ’n vrou en haar gesin net-net ’n aanval deur vermeende bendelede oorleef het toe daar Saterdag 23 Desember altesaam 11 skote op hul huis in Serkorpark afgevuur is.
Rosaline Pietersen, wat in Amystraat woon, vertel drie mans het haar erf betree voordat hulle skote op haar huis geskiet het.
“Ek is ’n hart- en kankerlyer en hulle kon my doodgeskiet het. Ek is in skok na die aanval op my en my geliefdes se lewens,” vertel sy.
AO Nico Beukes, woordvoerder van Strand-polisie, bevestig dat die voorval teen omstreeks 05:05 plaasgevind het toe die inwoners van die huis wakker geskrik het weens die geskietery deur die vermeende bendelede.
“Dit is moontlik ’n bendeverwante skietvoorval omdat die klaagster se kind ’n lid van die SOS-bende is. Die ondersoek is nog aan die gang,” sê Beukes. Elf 9 mm patroondoppies is op die toneel opgetel.
Presies ’n halfuur na die eerste voorval het polisiebeamptes die toneel besoek en hulle het reageer op die afvuur van skote op die hoek van Amystraat en Annikeslot in Serkorpark.
“ ’n Onbekende manlike verdagte het die polisiebeampte genader en ’n vuurwapen na die beampte gerig. Die beampte het toe ses skote op die verdagte geskiet en hom in die regterbobeen en aan die linkerkant getref. Die verdagte is op die toneel dood,” voeg Beukes by.
Die verdagte het ’n Luger 9 mm–pistool met ’n reeksnommer op en een magasyn en ses lewendige 9 mm-patrone in sy besit gehad.
Twee sake – een van poging tot moord en een van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen word ondersoek.



