Die Pelser-pa-en-seun-hengelaars van die Hoërskool Strand het tydens Boland Kushengel se jaarlikse prysuitdeling met merkwaardige prestasies uitgeblink. Die leerder Dante Pelser is vir die o.21 A-span gekies, wat in Januarie 2026 nasionaal in Oos-Londen teen ander provinsies gaan meeding. Hierdie jong hengelaar het ‘n indrukwekkende prestasie behaal deur algeheel tweede in die Boland te eindig, waar hy teen ouer en meer ervare hengelaars meegeding het.
Marais Pelser, ‘n onderwyser aan die Hoërskool Strand, het ook uitgeblink deur algeheel tweede in die Meesters-afdeling te eindig. Hy het hiermee ‘n plek in die Boland-meesterspan, wat in Januarie volgende jaar in Jeffreysbaai gaan deelneem, verwerf. Hierdie gesoute hengelaar ontvang ook die besondere eer om as afrigter van die Boland se o.21-span aangewys te word. “Baie geluk aan beide hierdie talentvolle hengelaars wat weet presies waar om die hoek in te gooi. Arende vang inderdaad nie vlieë nie!” het die skool aangekondig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article