Wat gebeur wanneer jongmense by bendes aansluit – hoe gebeur dit en wat dryf jonges om sulke dinge aan te vang?

Colleen Pienaar van die Sir Lowry’s Pass-vaardigheid-sentrum, ook bekend as die Village Colab, werk gereeld met jongmense en glo sy weet waarom baie van hulle in die web van bendes vasgevang word.

Sy het in 2020 opgelet hoe misdaad baie vinnig in gedeeltes soos Sir Lowry’s Pass styg en gesien hoe al hoe meer jongmense by bendes aansluit.

“Die misdaad het in 2020 begin styg. Klein misdade soos klere wat van wasgoeddrade af gesteel word of toestelle wat uit huise gesteel is, het toegeneem. Destyds het baie kinders vroeg die skool verlaat en van hulle het by ons geëindig.”

Van die ander kinders was nie so gelukkig nie en het by bendes aangesluit.

“As jy by ’n bende wil aansluit, moet jy sekere goeters doen. As ek my dwelms aan daai kant van die pad verkoop en ‘Jan’ verkoop sy dwelms aan die ander kant van die pad, mag ‘Jan’ se klant nie aan die ander kant van die pad gaan om dwelms te koop nie. Maar wat dan soms gebeur, is dan laat val die een sy prys en ‘Jan’ se klante loop soontoe en dan begin ’n stryery.”

Sy sê die jong kinders tree gewoonlik as “runners” vir die dwelmbase op.

“Dan begin ’n interne bakleiery op straat. Ek dink die probleme kom ook van dissipline af. Die mamma sit in ’n klein huisie en sy jaag die kind uit. Sy jaag hom uit om buite saam met sy maatjies te gaan speel. Hy sien sy maatjies rook en drink en hy dink hy wil ook ’n groot seun wees, en dis hoe dit begin.”

Die grootste probleem is dat die kinders vir twee jaar op hul eie gelos is om self oor die weg te kom.

“Nou is dit ná die strawwe inperking en baie van die ouers het hul werk verloor. Die ouers het nie werk nie en kan nie vir die kind sorg nie, nou sorg die kinders vir hulself.”

Apostel Manfred Jumat, voorsitter van Broadlandspark se buurtwag, sê ’n ander faktor is armoede en die onvermoë van ouers om in die fisieke behoeftes van kinders te voorsien, wat van hulle maklike kandidate maak om dan by bendes ingetrek te word.

“Bendeleiers word dikwels bronne van voorsiening deur klere ensovoorts vir jong seuns te koop. Dan kry ons dwelms, wat die ekonomiese kapitaal van bendes is. Dit word soos werkskepping vir jong seuns gebruik en hulle beloon hulself deur dwelms en met klere,” sê Jumat.

Pienaar sê dagga bied ’n tydelike verligting vir die kinders. “As jy nou daardie daggastompie kan rook, dan vat jy hom om net verligting te kry. Die gevaar is dan begin die kinders met ander dwelms wat baie erger is. Dis ’n ‘gateway’-dwelm.”

Die ander probleem is dat by van die bendes posisies onlangs oopgegaan het en die jong kinders doen “aansoek” vir die bende-posisies. “Enigiemand kan daardie posisie vul, maar hy/sy moet sekere goed doen om die posisie te kry. Dis klein goedjies soos ’n ou tannie se inkopies steel ensovoorts.”

As die bendeleierposisies oopgaan, is die aansoek-vereistes veel hoër.

“Dan moet jy iemand gaan messteek of jy moet iemand se lewe neem. Jy moet miskien ’n kat doodmaak of iemand verkrag. Die vereistes word erger. Sy bende gaan hom/haar beskerm en wegsteek nadat hy/sy die dinge aangejaag het.”

Julian Jansen, skrywer van die boek Seuns sonder pa’s, sê die bendebase gee die jong seuns daardie dinge wat die afwesige pa en die afwesige positiewe manlike rolmodelle vir die seun sou kon gee.

“Dinge soos aanvaarding (‘kom sit in die kring; rook ’n stop’), terugvoer (‘jy is kwai, my broe’), geld (rande om dwelms af te gee), ’n gevoel van behoort (tatoeëermerke) en mag (’n rang en om vrees in die gemeenskap te plaas met vuurwapens).”

Hy brei verder uit en sê die seuns verwar hierdie genoemde toekennings of “rewards” as liefde, warmte en omgee en hulle dink die bendes is ’n permanente tuiste en vir hulle die toekoms.

Volgens Pienaar is een van die ander probleme dat meer as een bendelid aansoek doen om die pos en elkeen moet ’n paar take voltooi om vir die pos te kwalifiseer.

“Die eerste een wat als klaarmaak en bewyse lewer (hy/sy moet foto’s neem van als wat hulle gedoen het), wen. ‘Klaas’ het al sy bewyse op sy foon, dan is hy die man; hy is die nuwe leier,” sê sy.

Pienaar glo van die geweld wat tans in die gebied aangaan, is gekoppel aan die feit dat daar nou plek in die bendes oop is. “Ek dink daar is ’n bietjie kompetisie. Wie kan eerste sy goeters klaarkry om leier te wees of by ’n spesifieke bende aan te sluit . . .”

Sy sê dit is ’n bose kringloop, want soos die een leier van ’n bende val, gaan sy plek oop, en so gaan daar baie plekke oop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article