’n Man van Broadlandspark het verlede Dinsdagoggend (31 Oktober) met sy lewe betaal toe hy die slagoffer van ’n noodlottige skietvoorval geword het.
Volgens die Strand-polisie is Randell Scholtz (31) omstreeks 03:10 Dinsdag in ’n woning in Bromelia-pad deur ’n oop toiletvenster raakgeskiet. Scholtz is in sy bolyf deur ’n koeël getref en het kort daarna aan die skietwond beswyk.
Sy dood volg agt dae ná ’n soortgelyke skietery wat ook as ’n bendeverwante voorval identifiseer is en waar ’n 19-jarige man in Sercorpark in die kop geskiet is. ’n Drukgroep genaamd Strand Community Concern het kort ná die voorval ’n vreedsame optog na Strand se polisiekantoor onderneem om hul misnoeë oor die stygende vlakke van misdaad te uiter (“Wilde weste heers in Strand,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 25 Oktober).
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het gesê die nuutste geval is bendeverwant omdat daardie spesifieke omgewing in ’n gebiedsoorlog tussen die 28’s- en die JCY-bende vasgevang is.
“ ’n Eerste poging op die oorledene se lewe is verlede jaar in Desember aangemeld nadat iemand op hom geskiet het. ’n Poging-tot-moord saak is destyds geopen. Die saak is deur die hof teruggetrek weens onvoldoende bewyse teen twee verdagtes,” sê hy.
Die aanslae op die slagoffer se lewe het egter nie daar gestop nie. Die Strand-polisie het bevestig iemand het in Augustus ook op die man deur ’n oop venster geskiet, maar in daardie geval is niemand raakgeskiet nie.
“ ’n Verdagte is in hegtenis geneem en die saak word steeds ondersoek,” verduidelik Beukes.
Renay Brown, Scholtz se tannie, wat die afgelope Donderdag (2 November) sy lyk moes gaan uitken, beskryf hom as ’n “lieflike mense-mens”.
“Hy het nooit ‘nee’ gesê nie. Hy was altyd bereid om te help. Hy sou die einde van November 32 geraak het. Ek het destyds, toe sy ma aan kanker oorlede is, na hom omgesien en sy dood is ’n groot skok vir ons.”
Brown sê sy hoop die polisie sal die skieter, wat sy pet agtergelaat het, opspoor en hom aan die pen laat ry vir wat hy gedoen het.
Sebastian Cloete van die Strand Community Concern-drukgroep ken nie die omstandighede nie, maar sê die gemeenskap is nie so erg deur die moord geraak nie omdat dit so vroeg in die oggend gebeur het. “Dit was nie ’n oor-en-weer-skietery nie. Die man is in sy huis geskiet waar hy geslaap het. Baie mense was simpatiek en ’n klomp mense in Broadlandspark het hom geken. Die drukgroep wil nie hê mense in ons gemeenskap moet doodgaan nie. Die vraag is wie is volgende en wanneer vlieg ’n koeël deur een van ons vensters?” sê Cloete.
Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), is geskok en hartseer om te verneem van nog ’n skietdood in die Strand.
“Die GPF het die polisie se bestuur asook die kluster-hoofde gemaan om hul operasionele ontplooiing aan te pas om die hoë vlak van bendeverwante skietvoorvalle asook moorde te stabiliseer en sodoende die gemeenskap se veiligheid te verseker. Ons beplan ook om gesamentlike voetpatrollies met verskeie veiligheidstrukture en wetstoepassers van stapel te stuur.”




