Die begin van Junie het aangebreek en so word ’n derde lyk in Macassar ontdek. Foto: Rick Marais


Gister (Donderdag 1 Junie) omstreeks 16:30 is nog ’n lyk in Macassar ontdek.

Adjudant-offisier (AO) Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, het bevestig dat die liggaam van ’n onbekende man in die gemenskap aangetref is. Die man is vermoedelik tussen die ouderdom van 28 en 32.

“Die lyk is deur voetgangers in Sandvlei in Macassar-weg ontdek,” het Adendolf bevestig.

Dit is die derde lyk wat in ’n tydperk van vyf dae ontdek is na die lyk van ’n onbekende man wat vermoedelik die slagoffer van moord was, op Sondag 28 Mei in ’n beboste gebied in Macassar-weg gevind is. Die voorval is voorafgegaan deur nog ’n gruvonds die vorige dag (Saterdagmiddag 27 Mei) toe ’n lyk van ’n onbekende vrou by Macassar-strand aangetref is (“Lyke gevind”, DistriksPos en Helderberg Gazette 31 Mei).

Wyk 109-raadslid Peter Helfrich sê op die stadium is dit nog onbekend of enige van die slagoffers in die area woon en of hulle dalk op ’n ander plek vermoor is en bloot in Macassar ge-dump is.

“Ek is baie bekommerd want dit wil vir my voorkom of dit ’n tendens begin word,” sê Helfrich.

Adendolf bevestig dat ondersoeke geopen is in al drie gevalle en op die stadium kan geen addisionele inligting verskaf word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article