Geraldo Solomons, wat teregstaan weens die moord op Denecké Persence, het hom Donderdag 29 Junie weer in die beskuldigdebank by die Somerset-Wes-landdroshof bevind.
Die moordsaak is tot Donderdag 24 Augustus uitgestel vir die direkteur van openbare vervolging (DOV) om te bepaal of dit in die plaaslike streekhof of die hooggeregshof verhoor sal word.
Solomons word aangehou vir die duur van die hofsaak nadat hy sy borgtogaansoek uit die staanspoor laat vaar het.
Dié 55-jarige van Macassar is Maandag 27 Maart weens die moord op die tienjarige, wie se lewelose liggaam kort ná haar verdwyning ontdek is, aangekeer (“Een vas ná Denecké-moord,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 29 Maart).
Nuus oor Denecké se verdwyning het aanvanklik Sondagoggend 12 Maart bekend geword toe ’n kennisgewing wyd en syd via sosiale media versprei is waarin ’n beroep op die publiek gedoen is om die meisie, wat Saterdagmiddag 11 Maart laas gesien is, te help opspoor.
Teen Sondagmiddag (12 Maart) is ’n lyk, wat vermoedelik dié van Denecké was, in ’n toegegroeide kanaal langs Rembrandtlaan in Marvinpark gevind (“Tragedy strikes: Horrific discovery in Macassar canal,” Netwerk24, 12 Maart).
Plaaslike owerhede is Sondag omstreeks 14:00 tot aksie geroep nadat die lyk deur lede van ’n soekgeselskap, wat sedert Denecké se verdwyning die Saterdagaand na haar gesoek het, in die kanaal ontdek is. Die liggaam, wat heeltemal onder die water en met die gesig na onder deur ’n vragmotorband vasgepen was, is later ten aanskoue van ’n groot skare omstanders verwyder. ’n Geregtelike nadoodse ondersoek is aanvanklik deur die Macassar-polisie geopen en DNS-monsters is Dinsdag 14 Maart weggestuur omdat ’n formele uitkenning weens die ontbinding van die lyk nie sou kon bepaal of die lyk wel dié van Denecké is nie (“Lyk van meisie dalk Denecké,” 15 Maart).
DNS-toetsuitslae, wat Maandag 20 Maart ontvang is, is positief met Denecké verbind. Die lyk is boonop in dieselfde T-hemp wat Denecké op die foto van die vermiste-persoon-kennisgewing aangehad het, gevind (“Lyk ís toe dié van jong Denecké”, 22 Maart).
Nadat die lykskouing ’n misdaad en Denecké se doodsoorsaak as verdrinking onthul het, is die saak egter na moord verander.
Die moordverdagte is een van drie mense wat aanvanklik ná die gruvonds vir ondervraging na die polisiekantoor geneem is, maar toe weens ’n tekort aan genoegsame bewyse nie aangekla kon word nie. Verdere polisieondersoek het daartoe gelei dat getuies na vore gekom het en die inhegtenisneming van die verdagte, wat glo die huisbaas van die slagoffer se gesin is en hulle ’n tuiste gebied het, moontlik gemaak.
Denecké is Sondag 26 Maart, presies twee weke ná die gruvonds, uit die Hoërskool Macassar se skoolsaal begrawe en in die Somerset-Wes-begraafplaas ter ruste gelê.
’n Skare betogers het met Solomons se eerste hofverskyning Woensdag 29 Maart vroeg buite die hof aan ’n vreedsame plakkaat-betoging deelgeneem as teenstand van borgtog (“Denecké-moord: Gemeenskap betoog teen verdagte se borgtog,” Netwerk24, 29 Maart).



