Denecké Persence se ouers, Karin Pieterse en Dirkie Persence, was onder ’n groot skare Macassar-gemeenskapslede wat Woensdag (29 Maart) buite die hof aan ’n plakkaat-betoging deelgeneem het.Foto: Jamey Gordon


Die verdagte wat verlede week in verband met die moord op Denecké Persence in hegtenis geneem is, sal na verwagting vanoggend (Woensdag 5 April) weer in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.

Die verdagte, Geraldo Solomons (55) van Macassar, is verlede Maandag 27 Maart weens die moord op die tienjarige, wie se lewelose liggaam kort ná haar verdwyning ontdek is, aangekeer (“Een vas ná Denecké-moord,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 29 Maart).

’n Skare betogers het verlede Woensdag (29 Maart) met Solomons se eerste hofverskyning vroeg buite die hof aan ’n vreedsame plakkaat-betoging deelgeneem in teenstand van borgtog (“Denecké-moord: Gemeenskap betoog teen verdagte se borgtog,” Netwerk24, 29 Maart). ’n Gedrukte weergawe van die aanlynpetisie, wat ná die inhegtenisneming as teenstand teen die verdagte se borgtog deur die komitee opgestel is en teen die hofverskyning byna 2 000 handtekeninge verwerf het, is Woensdagoggend by die hof ingedien.

Die nuwe verwikkelinge volg nadat nuus oor Denecké se verdwyning aanvanklik Sondagoggend 12 Maart bekend geword het toe ’n kennisgewing wyd en syd via sosiale media versprei en ’n beroep op die publiek gedoen is om die meisie, wat Saterdagmiddag 11 Maart laas gesien is, te help opspoor.

Teen Sondagmiddag (12 Maart) is ’n lyk, wat vermoedelik dié van Denecké was, in ’n toegegroeide kanaal langs Rembrandtlaan in Marvinpark gevind (“Tragedy strikes: Horrific discovery in Macassar canal,” Netwerk24, 12 Maart).

Plaaslike owerhede is Sondag omstreeks 14:00 tot aksie geroep nadat die lyk deur lede van ’n soekgeselskap, wat sedert Denecké se verdwyning die Saterdagaand na haar gesoek het, in die kanaal ontdek is. Die liggaam, wat heeltemal onder die water en met die gesig na onder deur ’n vragmotorband vasgepen was, is later ten aanskoue van ’n groot skare omstanders verwyder. ’n Geregtelike nadoodse ondersoek is aanvanklik deur die Macassar-polisie geopen en DNS-monsters is Dinsdag 14 Maart weggestuur omdat ’n formele uitkenning weens die ontbinding van die lyk nie sou kon bepaal of die lyk wel dié van Denecké is nie (“Lyk van meisie dalk Denecké,” 15 Maart).

DNS-toetsuitslae, wat Maandag 20 Maart ontvang is, is positief met Denecké verbind. Boonop is Denecké ook in dieselfde T-hemp wat sy op die foto van die vermiste-persoon-kennisgewing aangehad het, gevind (“Lyk ís toe dié van jong Denecké”, 22 Maart).

Nadat die lykskouing ’n misdaad en Denecké se doodsoorsaak as verdrinking onthul het, is die saak egter na moord verander.

Die moordverdagte is een van drie mense wat aanvanklik ná die gruvonds vir ondervraging na die polisiekantoor geneem is, maar kon toe weens ’n tekort aan genoegsame bewyse nog nie aangekla word nie. Verdere polisieondersoek het daartoe gelei dat getuies na vore gekom het en die inhegtenisneming van die verdagte, wat glo die huisbaas van die slagoffer se gesin is en hulle ’n tuiste bied, moontlik gemaak.

Denecké is Sondag 26 Maart, presies twee weke ná die gruvonds, uit die Hoërskool Macassar se skoolsaal begrawe en in die Somerset-Wes-begraafplaas ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article