Die verdagte wat vroeër vandeesweek in verband met die moord op Denecke Persence in hegtenis geneem is, het vanoggend (Woensdag 29 Maart) vlugtig in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
Die verdagte, Geraldo Solomons (55) van Macassar, is Maandag (27 Maart) – nadat die Macassar-polisie ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming verkry en uitgevoer het – aangekeer weens die moord op die tienjarige, wie se lewelose liggaam kort ná haar verdwyning ontdek is.
Die saak teen die moordbeskuldigde, ’n skraal man met kort donker hare en wat in ’n gekreukelde perskleurige hemp en vuil maroen broek in die hof verskyn het, is tot aanstaande Woensdag (5 April) uitgestel.
DistriksPos & Helderberg Gazette het in die nuutste uitgawe van die koerant berig die verdagte is een van drie mense wat aanvanklik ná die gruvonds vir ondervraging na die polisiekantoor geneem is, maar kon weens ’n tekort aan genoegsame bewyse nog nie aangekla word nie (“Een vas ná Denecke-moord,” 29 Maart). Volgens die polisie het verdere ondersoek daartoe gelei dat getuies na vore gekom het en die inhegtenisneming van die verdagte, wat glo die slagoffer se gesin se huisbaas is en hulle ’n tuiste bied, moontlik gemaak.
Die nuwe verwikkelinge volg nadat nuus oor Denecke se verdwyning aanvanklik Sondagoggend 12 Maart bekend geword het toe ’n kennisgewing wyd en syd via sosiale media versprei en ’n beroep op die publiek gedoen is om die meisie, wat Saterdag 11 Maart omstreeks 14:00 laas in Zandvlietweg oorkant die taxistaanplek gesien is, te help opspoor. Teen Sondagmiddag (12 Maart) is ’n lyk, wat vermoedelik dié van Denecke was, in ’n toegegroeide kanaal langs Rembrandtlaan in Marvinpark gevind (“Tragedy strikes: Horrific discovery in Macassar canal,” Netwerk24, 12 Maart). Plaaslike owerhede is Sondag omstreeks 14:00 tot aksie geroep nadat die lyk deur lede van ’n soekgeselskap, wat sedert Denecke se verdwyning die Saterdagaand na haar gesoek het, in die kanaal ontdek is. Die liggaam, wat heeltemal onder water en met die gesig na onder deur ’n vragmotorband vasgepen was, is later ten aanskoue van ’n groot skare omstanders verwyder. ’n Geregtelike nadoodse ondersoek is aanvanklik deur die Macassar-polisie geopen en DNS-monsters is Dinsdag 14 Maart weggestuur omdat ’n formele uitkenning weens die ontbinding van die lyk nie sou kon bepaal of die lyk wel dié van Denecke is nie (“Lyk van meisie dalk Denecke,” 15 Maart).
DNS-toetsuitslae, wat Maandag 20 Maart ontvang is, is positief met Denecke verbind. Boonop is Denecke ook in dieselfde T-hemp wat sy op die foto van die vermiste-persoon-kennisgewing aangehad het, gevind (“Lyk ís toe dié van jong Denecke”, 22 Maart).
Nadat die lykskouing ’n misdaad en Denecke se doodsoorsaak as verdrinking onthul het, is die saak egter na moord verander.
’n Skare betogers het vanoggend (Woensdag 29 Maart) vroeg buite die hof vir ’n vreedsame plakkaat-betoging saamgedrom. “No bail, no bail!” was hul dreunsang toe die polisievangwa met die verdagte by die hof aankom.
“Ons het nie veel om te sê nie anders as om te eis dat die verdagte geen borg [toegestaan moet word] nie. Ons vereis dat die hof kennis dra van ons kollektiewe wense – dat die gemeenskap geen borg vir hierdie misdadiger [wil hê] nie. Indien dié [man] in die samelewing vrygelaat word, sal hy moeilikheid optel met die gemeenskap. Ons soek geen borg vir die verdagte nie. Dit vir sy veiligheid en die gemeenskap se geestesgesondheid,” het Auriel September, die sekretaris van die Macassar-geloofsteenmisdaad-komitee en die Macassar Greater Civic Organisation sowel as die dryfkrag agter die gemeenskapsorganisasie Yondla Abalambileyo Foundation, wat geslagsgeweld met teenstanding bestry, gesê.
Volgens September het die aanlyn petisie wat ná die inhegtenisneming in teenstand met die verdagte se borgtog deur die komitee opgestel is, byna 2 000 handtekeninge verwerf. ’n Gedrukte weergawe van die petisie is Woensdagoggend by die hof ingedien.
Denecke se ma, Karin Pieterse, wat deel van die groep betogers was, het aan DistriksPos & Helderberg Gazette gesê sy en Denecke se pa, Dirkie Persence, het die moeite aangegaan om met die hofverskyning teenwoordig te wees, want hulle fokus al hul aandag en Godgegewe kragte op geregtigheid vir hul geliefde dogter. “Sodra ek justice gekry het vir Denecke, kan ons weens al die opgebottelde emosies uitmekaarval. Vir nou staan ons sterk en sal hierdie stryd wat voorlê, deurmaak,” het ’n emosionele Pieterse gesê.
Die skare het verdaag nadat nuus van die hofuitstel deur die plaaslike raadslid Rhoda Bazier gedeel is en ’n gebed deur Rosie Demas, ’n gemeenskapsaktivis, gedoen is.



