Danie van der Merwe, storieverteller van die Helderberg, neem kykers op ’n unieke reis deur die wêreld van wyn in Die Wynmeester.

Danie van der Merwe terug met seisoen 2 van Die Wynmeester

Danie van der Merwe, storieverteller van die Helderberg, neem kykers op ’n unieke reis deur die wêreld van wyn in Die Wynmeester.

Danie van der Merwe, ’n bekende gesig en stem in die Helderberg, is terug as aanbieder van Die Wynmeester op VIA. Hierdie storieverteller, wat voorheen as omroeper by HelderbergFM 93.6 gewerk het, neem kykers op ’n unieke reis deur die wêreld van wyn. “Ek bly ’n storieverteller, ongeag die platform,” sê Danie. “Daar is iets besonders daaraan om die konsep van wynmaak visueel tot lewe te bring.”

Ná ’n suksesvolle eerste seisoen is dit weer tyd om Suid-Afrika se onafhanklike wyntalent te vier. Die Wynmeester delf dieper as net wynmaak – dit ondersoek alles van grondvoorbereiding en besproeiing tot etikettering en bemarking.

Danie deel die stories van ses talentvolle wynmakers wat met hul passie en vakmanskap nuwe generasies Suid-Afrikaanse wyne vorm. In die tweede seisoen leer kykers meer oor terroir, kultivars, fermentasie, kos-en-wynparing, en selfs sosiale media en verkope.

Die ses deelnemers sluit in Andrew Mellish (Mellish Family Vineyards), Andri Hanekom (DA Hanekom Familie Wyne), Anrico Solomons (Solomons Family Wines), Janco de Kock (Anco Wines), Lucinda Heyns (Illimis Wines), en Mahalia Kotjane (Three Quarters Wines). Hulle bring unieke perspektiewe en wys hoe terroir, kreatiwiteit en harde werk hul wyne definieer.

Kykers kry ook insig in die wynmaakproses, van wingerde en oestyd tot bottelering en bemarking. Die wynmakers word getoets met uitdagings soos om ’n wyn by ’n geheime gereg te pas, etikette te ontwerp, en ’n sosialemedia-video oor sabrage te maak. Dertig lede van die publiek proe en stem oor die wyne, terwyl Abrie Beeslaar, hoofbeoordelaar, die Top-3 wynmakers kies. Die finale uitdaging bepaal wie as die Wynmeester gekroon word.

Volgens Danie is die reeks ’n huldeblyk aan die kuns en wetenskap van wynmaak. “Agter elke etiket is daar ’n storie van swaarkry, hoop en liefde,” sê hy. VIA se Charlize Odendaal voeg by: “Die Wynmeester is ’n pragtige reeks wat kykers op ’n leefstyl-wyse bekendstel aan die wynbedryf. Ons is opreg trots daarop.”

Die eerste Wynmeester, Xander Grier (Salt Rock Wines), is in 2025 gekroon. Nou, met ’n kombinasie van kompetisie, inspirasie en kennis, is Seisoen 2 ’n heildronk op Suid-Afrikaanse wyn en die passievolle mense agter elke bottel.

  • Die Wynmeester word vanaf Donderdag 16 Julie om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 2 September 2026
    DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 2 September 2026

Gift this article