Die winter is skaars hier, en ’n donkerte word reeds ervaar, wat koue rillings bring.
Hoewel Oom Cyril en sy kabinet besluit het dat ons land se ramptoestand sy einde gesien en oorgangsmaatreëls ingestel het, voel dit asof mense se welstand en geldsake steeds onder die Covid-19-pandemie ly, wat voortdurend op alle aspekte van die lewe verwoesting saai.
Die lewe is hopeloos te duur. Die prys van brandstof het Woensdag ’n nuwe hoogte ingeskiet. Huishoudings gaan onder stygende voedselpryse en ander uitgawes gebuk.
Daarbenewens is werksgeleenthede skaars en werkloosheid hoog. Volgens Statistieke Suid-Afrika staan die werkloosheidskoers nou op 35,3%.
Hoe moet ’n mens se geestesgesondheid dit hou? Uitbranding, angs en depressie is ’n harde werklikheid – soveel so dat die algehele druk tot toenemende voorvalle van selfdood lei. Benewens die tragedie van ’n bejaarde egpaar by Voëlklip, het die Kom in die bestek van weke oor drie afsonderlike vermeende selfdoodgevalle berig, onder andere dié van die sakeman Hendrik Gerryts, ’n konstruksiewerker by ’n Strand-eetplek en hierdie week se voorval op bladsy 4.
Hoewel die druk gewis nie minder gaan word nie, word ’n beroep op Helderbergers gedoen om vir ander ’n reddingsboei te bied by wyse van ’n vriendelike hallo, ’n helpende hand en luisterende oor.
Daar is altyd iemand erger af. Wie weet, miskien maak jou deernis die verskil.


