Die drie verdagtes in Abdullah Daggia se moordsaak is almal verlede Dinsdag (1 November) in die Strand-landdroshof borgtog geweier.
Die saak is die afgelope paar maande sedert Daggia se wrede moord Woensdag 18 Mei op ’n wipplankrit aangesien Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers eers aansoek om borgtog gedoen het, maar dit dadelik teruggetrek het toe hulle hoor hoe kwaad lede van die gemeenskap vir hulle was. Kort daarna het hulle weer aansoek gedoen, maar Hammers se ma, Mary, het ’n spreekwoordelike stokkie voor die verdagtes se borgtogaansoek gesteek toe die landdros besef het dat Sadia vir die hof gelieg het.
Die moordsaak van Daggia het ’n nuwe wending geneem toe Sadia se ma deur die landdros in die saak gedagvaar is. Volgens ’n betroubare anonieme bron by die Strand-landdroshof het Hammers haar in die hof weerspreek. Hammers het ’n vorige keer getuig dat haar ma (Mary) na haar kinders omsien, maar net voor dit het sy genoem dat sy (Sadia) self na haar eie kinders omgesien het, waarna die hof haar ma gedagvaar het. Sy het die hof ingelig dat sy self na die kinders omgesien het terwyl Hammers in aanhouding is en voor dit ook (“Nuwe kinkels in talle Strand-moordsake,” Distrikspos, 2 November).
Volgens die betroubare bron het die landdros tot die gevolgtrekking gekom dat Sadia die hof mislei het en as dit nie vir die ma se getuienis was nie, sou hy nie die waarheid geweet het nie. “Die landdros het ook genoem dat Vroue in Aksie se petisie en die feit dat die gemeenskap met plakkate vir die saak opgeruk het, hom oortuig het om borgtog te weier. Sadia, wat in haar beëdigde verklaring oor wie na die kinders kyk, gejok het, sou weggekom het as dit nie vir die dagvaarding van en getuiens deur haar ma was nie,” sê die bron.
Die saak is tot Maandag 28 November uitgestel wanneer die landdros sal besluit of die saak op die hofrol sal bly.


