‘n Groot groep mense het voor Strand-landdroshof bymekaar gekom en seker gemaak hul stemme word gehoor.


Met plakkate wat lees “No bail for killers” het ’n groot groep gemeenskapslede vanoggend (Vrydag 27 Mei) voor die Strand-landdroshof byeengekom in teenstanding tot die borgtogaansoek van die drie verdagtes wat teregstaan op die moord van Abdullah Daggia.

Die 33-jarige inwoner van Strand is die middag van Woensdag 18 Mei in ’n mesaanval op die hoek van Eerste- en Visserstraat in Rusthof (“Steekvoorval in Strand eis lewe”) dood. Daggia is glo vir sy selfoon vermoor en die drie verdagtes, Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers, is later daardie dag in verband met die noodlottige voorval in hegtenis geneem (“Twee moorde in twee ure ruk Strand-gemeenskap”).

Die verdagtes se eerste hofverskyning was Vrydag 20 Mei (“Vier vra borgtog na twee moorde,” Distrikspos, 25 Mei).

Vanoggend se optog is deur gemeenskaplede en -organisasies gereël, met talle mense wat die roep na aksie om voor die hof op te ruk in teenstanding tot die verdagtes se borgtogaansoek ondersteun het. Twee petisies, ’n aanlyn een en een wat op skrif gestel is deur die Vroue in Aksie-organisasie, het meer as 6 000 handtekeninge vanuit die Rusthof en ander Strand-gemeenskappe gekry. 

Dit blyk dat die aksies van die gemeenskap suksesvol was, nadat al drie verdagtes vanoggend hul aansoek om borgtog teruggetrek het. Net Adams en Hammers het vanoggend verskyn. Jantjies kon glo nie die hofsitting bywoon nie, want hy is tans in die Groote Schuur-hospitaal weens ’n besering wat hy vermoedelik tydens aanhouding opgedoen het. Boonop het hy ook positief vir Covid-19 getoets. 

Zora Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-organisasie, het buite die hof betogers en die breër gemeenskap aangemoedig om ’n standpunt teen misdaad in te neem. “Ons betaal belasting vir ’n polisiemag wat ons moet beskerm. Ons sal moet standpunt inneem,” het sy gesê. 

“Ons moet weg beweeg van die gedagtes dat ons ’n sekere kleur is en niks kan doen nie; miskien word ons nie gehoor en gesien nie. Dis tyd dat ons van strategie verander – genoeg is genoeg. Ons gaan nie langer in ’n situasie bly waar ons kinders se reg van bloot kindwees deur misdadigers weggeneem word nie.” 

Motasi glo die mag om ’n ommeswaai in misdaad te sien, lê in gemeenskappe. “Ons moet ons voete afloop, voor die hof kom staan en sê ‘genoeg is genoeg’. Ek was so gelukkig toe ek vandag in die hof sit en buite hoor hoe almal oor die luidsprekers praat. As ek dit kon hoor, het die magistraat ook gehoor. As ek dit kon hoor, kon die beskuldigdes dit hoor. Net soos ons opstaan vir die Daggia-familie, moet ons opstaan vir elke kind wat se lewe geneem word.” 

Die moordverdagtes bly in aanhouding totdat die saak volgende Vrydag (3 Junie) voortgaan. Jantjies moet ook dan aanmeld vir die hofsitting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article