Die saak teen die drie moordverdagtes wie vir die steekdood van Abdullah Daggia in hegtenis geneem is, is tot Donderdag 4 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.
Daggia is Woensdagmiddag 18 Mei op die hoek van Eerste en Visserstraat in Rusthof glo vir sy selfoon vermoor. Die 33-jarige van die gemeenskap het op die toneel aan steekwonde wat hy tydens die aanval opgedoen het, beswyk.
Die drie verdagtes, Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers het verlede Vrydag (27 Mei) met hul verskyning in die Strand-landdroshof almal hul formele borgtogaansoek terug getrek (“Geen borgtog vir drie beskuldigdes,” Distrikspos 1 Junie).
Dit het gevolg nadat gemeenskapslede en verteenwoordigers van die Vroue in Aksie-beweging daarteen betoog het. Die aksie was glo hoorbaar tot binne in die hof, volgens Zorah Motasi, die stigter van Vroue-in Aksie, wie op daardie tyd binne die hof gesit het.
“Ons kon die optog duidelik hoor in die hof. Elke woordjie. Ek dink dit het veroorsaak dat die verdagtes bang was en juis hul borgtogte terug getrek het.”
Jantjies wie toe nie die hofsitting kon bywoon nie, kon vandag (3 Junie) se hofsitting ook nie bywoon nie. Hy (Jantjies) is steeds in die Groote Schuur-hospitaal waar hy binnekort ‘n nood operasie sal ondergaan vir ‘n ruggraatbesering wat hy opgedoen het tydens aanhouding.


