Die sake teen vier beskuldigdes wat teregstaan op die moord van Abdullah Daggia en Angelo Matroos, is onderskeidelik tot later hierdie maand en volgende maand uitgestel.
Die drie moordbeskuldigdes in die Daggia-saak, Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers, sal Dinsdag 6 September in die Strand-streekhof verskyn. Die hofverskyning volg ná die beskuldigdes se inhegtenisneming in verband met die voorval, wat Woensdagmiddag 18 Mei in die Rusthof-woonbuurt plaasgevind het. Daggia (33), is op die hoek van Eerste- en Visserstraat glo vir sy selfoon vermoor.
Die slagoffer het op die toneel aan steekwonde wat hy in die aanval opgedoen het, beswyk.
Matroos, aan die ander kant, is ’n paar uur voor Daggia in ’n skietvoorval in Petuniastraat, Broadlandspark, van die lewe ontneem (“Twee moorde in twee ure ruk Strand-gemeenskap,” Netwerk24, 19 Mei 2022).
Die Daggia-moordbeskuldigdes het met hul hofverskyning Vrydag 27 Mei elkeen hul formele borgtogaansoek teruggetrek (“Geen borgtog vir drie beskuldigdes,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 1 Junie).
Daggia se suster, Aisha, het vandeesweek vertel die familie sukkel om die harde werklikheid te begryp, veral omdat die saak aanhoudend uitgestel word.
“Ons stand was duidelik dat ons borgtog teenstaan. Ons probeer tans die verlies van Abdullah verwerk, maar die saak wat aanhoudend uitgestel word, maak dinge moeiliker.”
Aisha het verder namens die familie die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning wat opreg waardeer word.
Farouk Koopman (21) is weens die moord op Matroos vasgetrek, en nadat die saak Donderdag (4 Augustus) in die Strand-landdroshof gedraai het, is dit tot Vrydag 26 Augustus uitgestel.


