Toe president Cyril Ramaphosa net mooi ’n maand terug aangekondig het dat ons land se ramptoestand sy einde gesien het, het baie gedink, of gehoop, die einde van pandemie-tye is ook in sig.
By geriefswinkels en supermarkte is die moeisame, maar nodige, ritueel van hande met ontsmettingsmiddel reinig by die deur uit. Kopers wie se hande nie ontsmet is nie, is binnegelaat. Blykbaar is die ontsmettingsmiddel nie eens meer ’n alkohol-gebaseerde produk nie. Dit is glo een of ander mengsel wat ’n vreemde, onaangename reuk op jou hande laat.
Boonop word mense toenemend laks oor die ander covid-maatreëls, insluitend om ’n gesonde afstand te handhaaf en veral om ’n masker te dra. As dit nie tuis vergeet word nie, word dit nie behoorlik – om jou en ander teen die virus te beskerm – aangewend nie.
Maar daar is reeds genoeg bewyse dat hierdie ongeërgdheid ons nou ingehaal het. Covid-gevalle styg toenemend en, volgens aanlyn berigte, word meer as 6 000 infeksies per dag aangemeld en is ’n moontlike vyfde golf op pad. En dít met die koue wintermaande en siekte-seisoen wat kom.
Helderbergers, wees verantwoordelik. Hou by Covid-protokol en plaas jou en ander se gesondheid eerste. En onthou, om jouself teen die dodelike virus in te ent, bied steeds die beste weerstand.


