’n Buurtwag wat ná ’n paar jaar weer op die been gebring is, se hoofdoel is om die strate van Chris Nissen-park vir inwoners veiliger te maak – veral vir kinders.

Die Chris Nissen-park-buurtwag, wat al sedert 2019 aan die gang is, is nou – vier jaar later – veel sterker noudat hulle uit 13 lede bestaan, wat werklik ’n verskil in hul gemeenskap wil maak.

Johan Cornelius, die huidige voorsitter, is sedert die begin deel van die buurtwag en hy was lank alleen aan die stuur van sake. Hy bieg dit is lekker om nou voltallig te wees en ’n span te hê wat lekker saamwerk.

“Asseblief, los die wapens,” het hy baie keer gesmeek vir die jongmanne wat met messe en ander wapens in die strate rondgeloop het.

“Ek het in my eie kinderdae in Stellenbosch gesien wat bendes aan ’n gemeenskap doen. Dis hoekom ek in 2019 besluit het om vir opleiding te gaan sodat ek kan help om ons gemeenskap in Chris Nissen-park, waar my eie twee kinders ook leef, veiliger te maak,” sê Cornelius.

Hy het sulke goeie werk gedoen om wapens uit die strate te verwyder, dat hy op een tydstip 20 messe en pangas verwyder en later aan die polisie oorhandig het.

Annie van Wyk, die ondervoorsitter van die buurtwag, en wat die belangrikheid van die buurtwag beklemtoon, is dankbaar vir die Stad Kaapstad wat onlangs die buurtwag van nuwe fietse en sigbaarheidsbaadjies voorsien het waarmee hulle hul werk makliker kan doen.

“Ons het altyd plek beskikbaar as nog mense by die buurtwag wil aansluit en ons help om misdaad te bestry,” sê Cornelius.

“Die enigste vereiste is dat jy ’n polisie-klaringsertifikaat moet hê en die bereidwilligheid om misdaad te bekamp.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article