2016 was ’n moeilike jaar op die aandelemarkte. Die gemiddelde belegging het skaars inflasie geklop.
Die vraag kom dan op: Behoort ek nie na ’n vaste deposito of geldmark te skuif nie? Ten minste is ek dan verseker van ’n opbrengs. Indien hierdie vraag in jou kop opkom, moet jy ’n tree terugstaan en seker wees oor waar jy investeer – jy moet bepaal of die swak opbrengs ’n resultaat van slegte aandeleprestasie was en of dit is omdat jy nie gediversifiseer was nie.
Sou die antwoord wees dat die aandelemark in die algemeen sukkel, moet jy probeer om geduldig te wees.
Om met verloop van tyd inflasie uit te presteer, gaan jy in aandele moet investeer en indien jy in aandele investeer, sal daar wisselvalligheid wees. Aandele gaan deur siklusse en daar is baie emosies betrokke. Daar is menige keer in finansiële geskiedenis bewys dat wanneer die sentiment op die negatiefste is, is dit juis die tyd om te koop. Met baie negatiwiteit daal aandele heelwat verder as wat hulle werklik werd is – die dalings skep dus goeie geleenthede.
Soos algemeen bekend, is die aandelemark die enigste plek waar die kliënt weghardloop vir ’n winskopie.
Wees dus geduldig, die mark het al vele male vir lang tye swak presteer en weer herstel. Die grootste fout is dus om nou van jou aandele te wil skuif omdat jou geduld opraak.
My raad is liewer om positief te wees en jou vertroue in jou fondsbestuurder te hou. Die aandeel waarin jy investeer het ook ’n strategie om geld te maak.
Wanneer die ekonomie sukkel, forseer dit ’n maatskappy om te besnoei waar dit kan en wanneer die ekonomie draai, is die maatskappy in ’n goeie posisie om goeie opbrengste te lewer en aandeelhouers te vergoed.
Raad om nou te volg:
• Bly in die mark, moenie tydsberekening probeer toepas nie – dit kan jou baie geld kos.
• Diversifiseer jou portefeulje, sorg vir genoeg aandeleblootstelling in die binneland en buiteland en hou jou risiko-aptyt in gedagte.
Moenie dat swak beleggingsbesluite en oorkonserwatiewe benaderings jou later byt nie.
Servaas Haasbroek is ’n gesertifiseerde finansiële adviseur by PSG Wealth Somerset Mall. Kontak hom by servaas.haasbroek@psg.co.za of bel hom by 021 851 3353.


