AfriForum se Strand-buurtwag het in Desember, en veral in die feestyd, dit op hulself geneem om hierdie gemeenskap veilig te hou.
Selfs met al die vakansiegangers wat op die gebied toegesak het, die besige strate en sommige buurtwaglede wat self uitstedig was, het die buurtwag 638 uur en 39 minute lank patrollies gery. Dit beteken dat die Strand-buurtwag vir 24 uur per dag vir 26 dae buurte in die gebied beveilig het.
Die 16 buurtwaglede wat aan hierdie patrollies deelgeneem het, het altesaam 146 patrollies in dié maand voltooi en ’n algehele afstand van 2 246 km afgelê.
Hiermee saam het die buurtwag talle kwaaddoeners se planne gefnuik deur wapens soos messe, skêre, hamers en huisbraakgereedskap by hulle af te neem.
Die buurtwag was in die Desember-feestyd ook doenig met bewusmakingsveldtogte en het selfs Helpende Hand bygestaan deur as veiligheidswagte by ’n geldinsamelingsgeleentheid te dien.
Die buurtwag het boonop die Kersfeesgees met die gemeenskap gedeel deur in samewerking met ander buurtwagte en private veiligheidsmaatskappye deur die strate van Strand te ry en geskenke uit te deel.
Buurtwaglede het ook klere aan vier families wat hul besittings in ’n huisbrand verloor het, geskenk en die gemeenskap aangemoedig om in te spring en te help waar hulle kan.
Die gemeenskap en plaaslike ondernemings het die buurtwag ondersteun deur kos en water te skenk.
“Die Strand-buurtwag is veral dankbaar vir Flameros, MBT en Kohler Motors vir die ondersteuning wat hulle die afgelope maand aan die patrolleerders gebied het,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.
“Sonder die gemeenskap se inkoop in ondernemings soos hierdie sou dit veel moeiliker gewees het om Strand volhoubaar veilig te hou.”
- Maak vandag nóg ’n verskil in die gemeenskap en raak betrokke by die plaaslike AfriForum-tak en buurtwag. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.





