Broadlandspark se buurtwag is onlangs by ’n amptelike herbekendstelling weer op die been gebring.
Brendyn Alloys van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê die gemeenskap gaan tans gebuk onder baie misdaad en geweld.
Dit is een van die redes waarom die herbekendstelling van Broadlandspark se buurtwag Saterdag (30 Julie) by die Bethesda-kerk in Storkstraat so belangrik was.
Volgens Alloys is bendemisdaad en bendeverwante misdade van die misdade wat die meeste in dié gemeenskap voorkom.
“Ons het verskeie uitdagings om misdaad in Broadlandspark te bekamp en ons as ’n gemeenskap het besluit dis tyd om te mobiliseer en hulpbronne bymekaar te skraap om dit te bestry.”
Verteenwoordigers van die Strand-GPF was teenwoordig en belangstellendes sonder ’n misdaadrekord is genooi om by die buurtwag aan te sluit en deel van misdaadbekamping in die buurt te wees.
“Die hoofdoel van die herbekendstellingsfunksie was om nuwe lede vir die buurtwag te werf. Maar dit was eintlik hartseer dat so min mense vanuit die gemeenskap opgedaag het om by die buurtwag te kom aansluit,” het Alloys gesê.
Soos voorheen is Apostel Manfred Jumat, ’n gemeenskapsleier van Broadlandspark, weer as die voorsitter van die buurtwag aangestel.
“Dit was eintlik meer ’n recruitment drive, want baie min mense is deel van die buurtwag,” het Jumat gesê.
“Ons is tans ’n handjievol mense wat probeer om ’n verskil in ons gemeenskap te maak, maar ons het meer mense nodig om die misdaadprobleme in ons omgewing te verminder.”
Hy het bygevoeg die herbekendstelling was die perfekte platform om mense in te lig oor hoe die buurtwag werk.
“Ons wil die mense inlig sodat hulle weet hoe dit werk. En dan, gegrond op daardie kennis, het ons gehoop dat die mense dan meer vrymoedigheid sou hê om by die buurtwag aan te sluit.”
Jumat het ook gesê die opkoms was uiters swak.
“Ons het meer as 200 strooibiljette uitgestuur en sosiale media gebruik om mense in te lig. Ons het meer mense verwag. Dit het nie goed afgeloop nie, maar die gesprek by die byeenkoms was goed. Hierdie sit ons nie af nie. Ons wil steeds na mense uitreik en inwoners aanhits en aanmoedig om by ons buurtwag aan te sluit.”
Hy het bygevoeg dit is juis die gemeenskap se kinders wat die misdade pleeg. “Dis die ouers se plig om hul kinders weer op die regte pad te kry. As die ouers lid van die buurtwag is, beteken dit hulle het ’n groep mense om hulle wat hulle met raad kan help. Ons wil minder jongmense in die strate sien wat besig is met die verkeerde dinge,” het Jumat vertel.
Hy sê die buurtwag beplan om binnekort nog ’n werwingsveldtog te hou.
“Die stryd teen misdaad is almal se verantwoordelikheid. Nie een van ons sal veilig wees voordat ons almal veilig is nie,” het Alloys afgesluit.



