Die Khayelitsha-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek ‘n saak van verkragting nadat ‘n negejarige meisie van Strand na bewering die mees onlangse slagoffer van seksuele geweld geword het.
Luidens ‘n Strand-polisieverslag het die beweerde misdaad tussen Desember verlede jaar en Saterdag 5 April plaasgevind.
Twee verdagtes, ‘n 19-jarige man en ‘n 17-jarige seun, is Maandagaand 7 April in verband met die misdaad deur Strand-polisiebeamptes aangekeer.
Die sibbe is om 20:00 op aanklag van verkragting by hul tuiste in die Gustrouw-woongebied in hegtenis geneem.
‘n Strand-polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Nico Beukes, het gesê beamptes moes tydens die inhegtenisneming vinnig optree om die broers se veiligheid te verseker. Die gemeenskap was in rep en roer oor die gruwelike misdaad en ontstoke lede het byna eie reg gebruik.
Die polisieverslag dui aan dat die slagoffer en haar ma op die perseel van die hoofhuis woon, waar die beweerde misdaad in Gustrouw plaasgevind het.
Gedurende tye wat die meisie se ma laat skofte gewerk het, het sy soms in dieselfde hoofhuis geslaap waar die vermeende oortreders ook woon.
Die meisie het op Sondag 6 April vir haar pa vertel van die beweerde seksuele misbruik wat vermoedelik oor ‘n tydperk van vier maande plaasgevind het.
Die ouers het ‘n verklaring namens hul dogter by die polisie ingedien.
“Toe sy my vertel, het dit my hart gebreek,” het die slagoffer se pa in ‘n telefoniese onderhoud met DistriksPos & Helderberg Gazette gesê.
Hy sê hulle het Saterdagaand 5 April ‘n rugbywedstryd by ‘n plaaslike sportveld bygewoon en toe die rugby verby is, het hy sy dogter en haar ma na hul huis geneem.
Nadat haar ma gaan werk het, het die pa nog vir ‘n rukkie met sy dogter gesit. Omstreeks 00:00 (Sondag 6 April) het hy vir sy dogter gesê hy gaan nou huis toe en sy moet in die hoofhuis gaan slaap. “Sy het begin bewe en in trane uitgebars terwyl sy my vertel het wat hulle aan haar doen,” het die pa vertel.
Hy het die minderjarige en die eienaar van die huis gekonfonteer en die verdagte het die bewerings wat deur sy dogter gemaak is, ontken.
“Ek moes myself keer, want my woede sou dit moeiliker gemaak het vir haar,”
het die pa van die slagoffer sê.
Hy het sy dogter vir toetse na ‘n plaaslike hospitaal geneem waarna sy na die Helderberg-sentrum vir kinderslagoffers van seksuele geweld, Patch Helderberg, vir berading en forensiese evaluasie as deel van die ondersoek verwys is.
“Die sogenoemde ‘skande’ wat met seksuele misbruik gepaardgaan, kan ook moeilik wees vir die slagoffer om te hanteer,” sê Ada Buys, bestuurder by Patch Helderberg. “Dis belangrik dat die gemeenskap nie die seksuele aanranding bekend maak en die slagoffer identifiseer nie.”
Volgens Buys is meer as 500 gevalle van kinder- seksuele misbruik in die laaste 12 maande na Patch Helderberg verwys. Sy beweer dis omdat pornografie op sosiale media meer toeganklik is.
“In sommige gevalle word die kind seksueel misbruik deur iemand wat hulle ken en dan is dit nie net dat hulle mishandel is nie, maar hulle het ‘n vertroude verhouding verloor,” het Buys gesê.
Sy doen ‘n beroep op enige kinder- slagoffer of ouers van kinderslagoffers van seksuele misbruik om na vore te kom en oor sulke misdade te praat.
Enigiemand wat ‘n slagoffer is of deur seksuele misbruik geraak is, kan Patch by 021 852 6110 skakel.
Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, het in die lig van die beweerde misdaad gesê haar hart is gebreek omdat daar tydens die inhegtenisneming meer kommer was oor die moontlikheid dat gemeenskapslede die wet sou oortree as oor die twee verdagtes wat ‘n meisie seergemaak het.
“Ons is gatvol dat mans wat nie hul seksuele begeertes kan beheer nie, ons kinders slagoffers maak,”
het Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie, gesê.
Die aktivis het bygevoeg sy is egter bly dat die gemeenskap wel teen sulke geweld saamstaan.
Sy het voorts verwys na die verdagtes se hofverskyning, waartydens talle jong moeders die slagoffer en haar ouers ondersteun het.
Die verdagtes het op Dinsdag 9 April vir die eerste keer op aanklagte van verkragting in die Strand-landdroshof
verskyn. Die saak is tot Dinsdag 22 April uitgestel.
Die verdagtes bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.




