Meer gereelde en sigbare wetstoepassing-patrollies sal in brandpunte van die Strand-gemeenskap geprioritiseer word.
Dit is volgens JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die Kaapse metroraad, en kom ná hy verlede week besoek afgelê het aan Broadlandspark wat die afgelope paar maande swaar onder misdaad gebuk gaan.
Smith se besoek aan die gemeenskap verlede Maandagaand (15 Augustus) volg ook nadat hy nie ’n vorige veiligheidsvergadering van die buurtwag kon bywoon nie en toe ingestem het om eerder saam met al die rolspelers op ’n patrollie uit te gaan.
Die patrollie volg drie maande ná die imbizo, wat Vrydag 20 Mei by die Bethesda-kerk in Broadlandspark gehou is. Die imbizo is gehou om die stygende misdaad in die gebied asook ander brandpunte te bespreek. Van die grootste probleme waarmee inwoners worstel, is die vertrouensverhouding tussen die gemeenskap en die polisie, wat verstewig moet word, en die vraag na verbeterde kommunikasie van en reaksietye deur die polisie (“Strand-gemeenskap maak stem dik,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 25 Mei).
’n Groot probleem is polisievoete op die grond, sowel as dié van Broadlandspark se buurtwaglede. “Die buurtwagte het tans minder lede as wat hulle benodig en dit is belangrik dat ons hulle met die werwing van nog lede help,” het Smith gesê.
Hy het selfs so ver gegaan om ’n video (wat op sosiale media versprei is) met al die rolspelers op te neem om mense aan te moedig om by die plaaslike buurtwag aan te sluit. “Ons wil die video deur sosiale media versprei om mense aan te moedig om by die buurtwag aan te sluit,” het Smith verduidelik.
Smith is verlede week vergesel deur ’n groot groep rolspelers, onder wie die polisie, die verskeie buurtwagte asook die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
Brendyn Alloys, die sekretaris van die Strand-GPF en wat ook deel is van Broadlandspark se buurtwag, het bevestig dat die patrollie met Smith gereël is om te verseker dat die gemeenskap veiliger is en dat misdaad en geweld uitgeroei word.
“Ek is beïndruk deur die buurtwagte en hul koördinasie en passie. Hulle het goeie verhoudinge met die polisie en metropolisie asook wetstoepassers bewerkstellig en doen optredes gefokus op drank en dwelms asook bende-aktiwiteite,” het Smith aangevoer.
Hy het in die video uitgereik na mense om aan te sluit by Sektor 1 se onderskeie buurtwagte, wat gebiede soos Broadlandspark, Southfork en Gustrouw patrolleer. “Die werk kan nie elke week op dieselfde skouers rus nie. Kom sluit aan. Dit kan ongelukkig nie gebeur sonder jul hulp nie. As julle te bang is om by die buurtwag se patrollies aan te sluit, kan julle steeds jul deel doen deur misdaad aan te meld.”
Broadlandspark se buurtwag is onlangs by ’n amptelike herbekendstelling weer op die been gebring. Alloys het gesê dié gemeenskap gaan tans gebuk onder baie misdaad en geweld. Dit is een van die redes waarom die herbekendstelling van buurtwag Saterdag 30 Julie by die Bethesda-kerk in Storkstraat so belangrik was.
Volgens Alloys is bendeverwante misdade van die misdade wat die meeste in dié gemeenskap voorkom. (“Buurtwag probeer nog mense werf,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 3 Augustus).
Apostel Manfred Jumat, ’n gemeenskapsleier wat ook as voorsitter by Broadlandspark se buurtwag optree, was ook betrokke by die vorige pogings om lede vir die buurtwag te gaan werf.
“Ons kort julle om te kom aansluit. Kom neem hande saam met ons en kom ons kry misdaad in ons gebied onder beheer,” was Jumat se aanmoediging op die werwingsvideo, wat wyd op sosiale media gedeel is.
Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand-GPF, verwelkom die interaksie met Smith. “Smith het ook aangevoer dat meer gereelde en sigbare wetstoepassing-patrollies in brandpunte soos Broadlandspark, Gustrouw, Erijaville, Liberty en Allan Boesak gefokus sal word.”
Volgens Thysen het Smith se video reeds vrugte begin afwerp nadat ’n groot aantal vrywilligers vir Broadlandspark se buurtwag aangeteken het.
Sean Stacey, die Wyk 100-raadslid, het ook die aand saam met Smith en verskeie rolspelers deur Broadlandspark gepatrolleer en onderneem om sake van onwettige bouwerk, spoedwalle/spoedhobbels vir verkeer-kalmering asook bykomende CCTV-kameras verder op te volg.
Volgens Smith is verskeie optredes in die gebied die laaste paar maande deur die metropolisie se bende-en-dwelm-taakspan (GDTT) gedoen.
Hy het bygesê dat Broadlandspark meer aandag sal kry om te verhoed dat misdaadprobleme in dié gebied vererger.
“Die GPF wil die gemeenskap bemagtig sodat hulle in beheer kan wees van hul eie veiligheid en dat misdrywe by die polisie aangemeld sal word,” het Thysen gesê.


