Die omheinde en amper voltooide Broadlandspark-gemeenskapsaal. Foto: Rick Marais


Die gate in die mure is toe, die deure is gehang en ’n heining is op, maar baie werk moet nog geskied voordat Broadlandspark se gemeenskapsaal ’n veilige hawe vir kinders, wie se voorskool daarheen sal skuif, kan wees.

Die Future Kids-sentrum het in Mei aangekondig hy beoog om na die einste saal te skuif, want hul huidige perseel by ’n beknopte huis in Petuniarylaan is gans en al te klein vir al die kinders.

Die goeie nuus en besluit volg nadat ’n huurkontrak opgestel is tussen die huidige kontrakhouers van die saal, die ACVV Bright Lights, en die Future Kids Educare Centre (“New home for Future Kids Educare,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 24 Mei).

Maar voordat al dié dinge kan plaasvind, moet ’n paar struikelblokke nog oorkom word, en daarvoor benodig die Future Kids-sentrum almal se hulp.

Tyrone September, die hoof van Future Kids, se deuntjie het sedert Mei nie verander nie en hy pleit steeds by die gemeenskap vir hulp en ondersteuning.

“Ons het die gemeenskap en plaaslike sakeondernemings gemaan om hul harte en hande oop te maak, maar baie min het werklik opgestaan en ons kom help.

“Ons moet wel die Sewendedag Adventiste-kerk in Strand bedank vir die toilette en wasbakke wat hulle vir ons nuwe skooltjie geborg het,” het September bevestig.

Verder het weldoeners ook gehelp om die binnekant van die gemeenskapsaal se mure skoon te spuit.

September se ma, Natasha, ’n onderwyseres by die sentrum, het gesê hulle kort nog verf om die buitekant van die gebou te voltooi asook mense wat die perseel kan oppas.

“Mense slaap saans op die perseel om seker te maak niks word weggedra of gesteel nie. Dit sal lekker wees om iemand permanent te hê wat self ’n ogie kan hou,” het Natasha gesê.

Die laaste en groot hekkie wat nog oorkom moet word, is om die gemeenskapsaal se elektriese verbindings reg te maak, maar volgens September is daardie bal in Stad Kaapstad se hande, wat nog die werk moet kom voltooi.

Patricia van der Ross, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdiens en gesondheid, het bevestig ’n saamtrek is Vrydag (6 Oktober) by die saal gehou om ’n aksieplan oor die elektrisiteitstoevoer te ontwikkel. “Dis hang af van begroting en beskikbaarheid. Die departement van ontspanning en parke sal met die huurder vergader om oor die kostes verbonde aan die nodige werk te onderhandel,” het Van der Ross gesê. . Indien ’n sakeonderneming of enigiemand anders tot dié waardige saak wil bydra, kan hulle Tyrone September by 063 599 0958 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article