Min van die ouer garde het seker nog nie die naam Jan Tredoux gehoor nie.
Hy het in die sestiger- en sewentigerjare vir die eertydse Strand-Somerset-Wes-rugbyklub (nou Helderberg) gespeel en ook as kaptein en afrigter uitgeblink.
Tredoux het groot naam gemaak as ’n gevreesde loskopvoorryman en ’n meedoënlose mededinger wat groot respek afgedwing het.
Dit is met groot hartseer dat Jan Woensdag 1 Februarie op 83-jarige ouderdom die tydelike met die ewige hier in Stilbaai verwissel het. Hy word oorleef deur sy vrou, Gustavee, ’n broer, drie susters en vier kinders – sy dogters Gustavee en Jean en seuns Jan en Louis-Jacques, asook 10 kleinkinders, sewe kleindogters en drie kleinseuns.
Ons dra ons innige simpatie oor aan sy gesin, familie, vriende en die talle oud-rugbykollegas van Jan, wat onthou word vir sy passie vir rugby, maar ook vir sy gesin.
Jan en Gustavee het hul aftree-jare in Wellington en later in Stilbaai deurgebring. Jan was ’n groot mededinger wat nie geglo het aan tweede kom nie. Hy het altyd gesê elke skrum moet ’n meesterstuk wees, en dit is hoe hy sy rugby, sy beroep, sy lewe en sy verhoudings benader het. Sy gesin was vir hom alles en hy het elkeen van hulle met sy omgee en motivering op ’n pad van sukses geplaas.
Ek het Jan op Maties leer ken, waar ons in dieselfde rugbyspan gespeel het. Hy was van ’n klein skool – Zwaanswyk in Retreat in die Kaapse suidelike voorstede. Hy het in 1958 dadelik ’n impak as losvoorspeler in die onder-19 A-span gemaak. Die volgende drie jaar het hy vir Maties senior rugby gespeel. Dok Craven het sy potensiaal raakgesien en hom as loskopvoorryman gebruik.
Jan het BSc studeer en is ná sy studies by AECI in die Strand as projekbestuurder aangestel. Hy het dadelik sy gewig by die SSW-rugbyklub ingegooi en die eerste span etlike jare as kaptein gelei. Hy was ’n gevreesde loskop wat respek afgedwing en menige opponent behoorlik laat les opsê het. Hy het die Westelike Provinsie tussen 1962 en 1967 verskeie kere as instaankaptein verteenwoordig wanneer die Springbokke nie beskikbaar was nie.
Jan het later jare ook ’n draai in die Noord-Vrystaat by Sasol gemaak.
Hy het hulle ook as kaptein gelei. Daarna het hy hom op Worcester gevestig en vir Boland gespeel.
Jan het in die sewentigerjare na die Strand as direkteur van Marley Flooring teruggekeer en weer vir SSW tot in 1974 gespeel. In 1981 het ons paaie weer gekruis toe Jan as my hulpafrigter by SSW se eerste span aangestel is. Ná ’n paar wedstryde het hy egter besluit om op 42-jarige ouderdom weer sy rugbytoks aan te trek. Jan was altyd fanaties oor fiksheid en was seker die fiksste speler in die klub. Dit was ook nie lank nie of hy sak weer in die eerstespan as loskop vir die res van die seisoen en in 1982.
Ons sal hierdie talentvolle, beminde, nederige en voorbeeldige gentleman mis. Hy laat ’n groot leemte in baie mense se lewe en ook in die Helderberg-rugbyklub (SSWRVK) wat hy met soveel oorgawe en eer vir baie jare as speler, leier en afrigter gedien het. RIV.




