Die Paul Roos Gimnasium-musiekfees, ’n kulturele hoogtepunt op dié skool se kalender, vind Woensdag 25 en Donderdag 26 Oktober in die Stellenbosch-stadsaal plaas.
Ná die sukses van PRG en die Universiteit Stellenbosch dramadepartement se musiekblyspel, The Addams Family, kan die Paul Roos-gemeenskap uitsien na nog ’n spogproduksie. Soos gewoonlik is Atterbury Properties ’n borg van dié jaarlikse instelling, asook X-Chequer Fund Management, FNB én Fledge Capital.
Musiekfees-aanhangers kan weer uitsien na optredes deur gevestigde kunstenaars; in vorige jare het die skool se musikante en sangers die verhoog met onder andere Amanda Strydom, Coenie de Villiers en Corlea Botha gedeel. Vanjaar is Brandon October en Anna Davel die gaskunstenaars.
October vestig hom internasionaal en plaaslik as ’n formidabele sielvolle sanger en komponis. Met sy unieke stem en warm verhoogpersoonlikheid deel hoogaangeskrewe musikante en sangers, soos Davel, graag die verhoog met hom. Op haar beurt boei, vermaak en betower, die pragtige Davel, al vir 21 jaar, aanhangers met haar ongeëwenaarde fluweel stem.
Die sangers tree saam met die bekroonde PRG-sanggroep en -koor, ’n 50-stuk simfonie-orkes, die orkes en massakoor van meer as 500 leerders op. Laerskool Eikestad vorm ook deel van dié konsert. Hierdie opwindende ensemble met hul program propvol uitmuntende musiek, beloof om gehore sprakeloos te laat.
Die konsert begin om 19:00; kaartjiepryse beloop R175 vir volwassenes en R100 (kinders onder 18). Bespreek jou plek by www.quicket.co.za.
’n Beperkte aantal tafels van 10 is teen R10 000 elk beskikbaar (R1 000 per persoon); kontak Luna Paige by media@paulroos.co.za.




